Rooibrug
Die lugfoto wys van die skade op ‘n plaas in die Robertson/Bonnievale-vallei. Foto: Facebook/Premier Alan Winde

Boere vasgevang in knyptang van skade en stygende kostes

Rooibrug
Die lugfoto wys van die skade op ‘n plaas in die Robertson/Bonnievale-vallei. Foto: Facebook/Premier Alan Winde

Regoor die vloedbeskadigde Wes-Kaap bereken boere die koste van die skade.

Die skade beloop derduisende met wingerde, boorde, pakhuise, wonings en paaie wat die woede van die vloedwaters moes trotseer.

Jannie Strydom, die hoof uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, het vandeesweek talle plase besoek. Hy het Dinsdagoggend aan Standard verduidelik watter impak die stormweer en vloede op landbou in die Wes-Kaap gehad het

KYK| ‘Grootste impak op infrastruktuur, citrus-bedryf ergste geraak’

Jannie Strydom, hoofuitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap.

Teen druktyd was die volle omvang van die skade nog nie duidelik nie, met van die gebiede wat nie toegangklik was nie as gevolg van verspoelde paaie.

“Die grootste impak van die huidige vloede in ons provinsie het ons bevind is aan infrastruktuur, met ander woorde paaie, brûe en Eskom-lyne. Ons het baie areas in die provinsie wat nog steeds nie kragtoevoer het nie en ons het ook nie toegang daartoe nie weens brûe en paaie wat verspoel het,” het hy gesê.

“Tans is die belangrikste industrieë wat geaffekteer word, die sitrus-industrie wat besig is met hul oes-prosesse, ons het nog nie geverifieerde inligting nie, maar dit klink of daar redelik baie hektare beskadig is. En dan ook wyndruiwe, met wingerdblokke wat verspoel het en onder water was vir ‘n geruime tyd. Daardie skade moet nog bepaal word.”

vloedskade
Wingerde op ‘n plaas naby die Rooibrug in die Robertson/Bonnievale-gebied was verlede week toe onder die water ná grootskaalse oorstromings. Foto: Francois Lombard

“Daar is ook ander kontantgewasse wat skade gely het asook tafeldruiwe, veral in die Hexrivier-area op pad Worcester toe. Die ondersteuning wat nou verlang word, is befondsing om die infrastruktuurskade so spoedig moontlik te herstel. Soos genoem is die sitrusbedryf besig om te oes en is toegang tot plase en pakhuise van kardinale belang. Om infrastruktuur skade te herstel is groot behoefte soos Eskom se herstel aan areas wat nou al meer as ‘n week sonder krag is.”  

Strydom het ook gesê dat die stygende brandstofpryse die landbousektor negatief raak. Wintergraan-aanplantings word nou gedoen en tesame met die aktiwiteite wat daarna volg, gaan brandstofpryse boere se sakke hard skud. “Die koste-knyptang is ’n realititeit vir boere op grondvlak en die stygende bandstofprys dra defintief by,” het hy gesê.

John Steenhuisen, die minister van landbou, het op Maandag 18 Mei die gebied besoek.
“Aan al die boere en gemeenskappe wat deur die storms geraak is, daar is hulp op pad.
“Jul veerkragtigheid en vasberadenheid deur hierdie ongelooflik moeilike tyd is besonders en ek is toegewyd daartoe om vir julle die ondersteuning en hulp te bring wat julle verdien,” het hy in ‘n Facebook-plasing geskryf.

“In die toekoms sal dit krities wees dat die regering vlugvoetig en aanpasbaar moet bly in ‘n toenemend onvoorspelbare klimaat.
“Alle toekomstige beleggings in infrastruktuur en ontwikkeling word gedoen op ‘n volhoubare en veerkragtige manier om ons plaaslike ekonomie en dié wat daarvan afhanklik is, te beskerm.”

Pieter Graaff, die voorsitter van Tru Cape Marketing, was een van die mense wat Steenhuisen tydens sy besoek vergesel het om die impak op die appel- en peerbedryf te beskou.
“Een van die grootste bekommernisse is die ineenstorting van tussen ses en tien kragmaste in die ­Waaihoek-omgewing tussen Wolseley en Worcester, wat die omgewing met erg beperkte kragtoevoer gelaat het.

“Bedryfsleiers het gewaarsku dat die verwagte hersteltydlyn van vier weke ‘n ernstige bedreiging inhou vir die varsvrugte-bedryf, wat staatmaak op elektrisiteit om die nodige vruggehalte te verseker en voort te gaan met ­verwerking,” het Tru Cape op sy web-werf geskryf.
“Die skade aan infrastruktuur sal jare neem om te herstel en miljarde rande kos. Hierdie ramp het ons provinsie ‘n aansienlike knou gegee, maar met sterk leierskap sal ons seëvier.
“Daar is tans meer as 300 000 ton vars geplukte uitvoervrugte in koelkamers wat elektrisiteit vereis om hoë genoeg gehalte vir die mark te behou,” het hy gesê.
“Kragopwekkers het nie genoeg vermoë om hierdie koelkamers aan die gang te hou nie en dieselkostes plaas enorme finansiële druk op ondernemings.

“Indien die vrugte se gehalte verswak, kan dit nie verpak word nie, wat die verlies van duisende werksgeleentheide en groot uitvoerinkomstes kan beteken.”
Vrugteprodusente het ook gevra dat die R43-pad tussen Villiersdorp en Worcester dringend herstel word, omdat dit noodsaaklik is vir produsente van meestal appels om hul vrugte by die mark te kry.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article