KIMBERLEY – Vrae hang steeds oor die omstandighede en moordenaars van wyle Katlego Sandford Moribe, ‘n prokureur van Kuruman wat voor sy dood ʼn aansoek in die gesig gestaar het waarin die Regspraktykraad (LPC) hom van die rol wou laat skrap weens ernstige aanklagte van wangedrag en beweerde misbruik van sy trustrekening.
Moribe is op 1 Junie vanjaar in Mothibistad buite Kuruman by ‘n hostel doodgeskiet. Hy is glo etlike kere geskiet toe hy by sy aankoms by die hostel ‘n hek oopgemaak het.
Vyf mense is later in Noordwes in hegtenis geneem op aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, maar is nie van sy moord aangekla nie. Drie van die vyf het reeds borgtog gekry, die twee ander doen op 9 Oktober in Mothibistad se hof aansoek om borgtog.
Die LPC het intussen ‘n bevel van die Hooggeregshof in Kimberley bekom om as kurator bonis beheer te neem oor alle trustrekenings van Moribe en om sy beweerde wanpraktyke reg te stel.
Hy was die prokureur van die twee moordenaars van hotelier Leon Brits, wat op 7 Oktober 2020 dood in sy swembad in Pofadder aangetref is. Sy vrou, Suretha Brits het in ʼn pleitooreenkoms beken sy het die moord georkestreer en moordenaars gehuur.
In die LPC se hofaansoek om Moribe van die rol te skrap voer ʼn voormalige kliënt aan hy is geskiet en het in die hoësorgeenheid beland omdat hy Moribe aangevat omdat hy net R7 miljoen van ʼn Padongelukkefonds-eis van R15 miljoen ontvang het. Die aanvallers sou glo aan hom sê om te vergeet van die uitstaande geld. Na bewering is nog ʼn betrokkende in die ondersoek deur dieselfde aanvallers geskiet en gewaarsku.
Moribe is ook deur ander voormalige kliënte beskuldig dat hy nie geld aan hulle oorbetaal het, wat hy namens hulle van die Padongelukkefonds (POF) geëis het nie. Een kliënt het egter sy klagte teruggetrek weens Moribe se “modus operandi”.
Nog ʼn eiser het glo verdwyn op die dag wat hy na Moribe se kantoor in Kuruman moes gaan om dokumente te onderteken.
Voor sy dood het die LPC verskeie ernstige klagtes teen Moribe ondersoek. Die bewerings sluit in dat hy trustfondse misbruik en na sy persoonlike rekening oorgeplaas of die geld “gerol” het om een kliënt met ‘n ander s’n te betaal.
Die trustrekening was na bewering op vele geleenthede in die rooi. Die bedrae wat na bewering aan kliënte verskuldig was, het hierdie balans ver oorskry, wat ‘n beduidende trusttekort geskep het.
Daar was veelvuldige klagtes van kliënte teen hom.
Sam Mokhitli het Moribe in Junie 2016 genader om met ‘n eis van onregmatige inhegtenisneming te help. Moribe het R82 000 in sy trustrekening ontvang, maar niks aan Mokhitli betaal nie totdat Regshulp Suid-Afrika ingegryp het. Laasgenoemde het egter sy klagte by die LPC laat vaar weens “Moribe se bekende modus operandi”.
In die geval van Stephina Mashele is R1,9 miljoen in Moribe se trustrekening betaal na haar suksesvolle eis teen die Padongelukkefonds. Moribe het Mashele se oproepe en boodskappe glo ontwyk. Bankrekeninge het getoon dat Moribe na bewering R930 000 na sy eie bankrekeninge oorgeplaas het. Mashele het niks ontvang nie.
Otshepeng Jooste-Pico het aangevoer Moribe het sy onvermoë om te lees misbruik en hom oortuig om ‘n vorm te teken. ‘n Ander prokureur het later verduidelik dat R1 miljoen in Moribe se trustrekening betaal is, maar net R397 000 is aan Jooste-Pico betaal. In die LPC-ondersoek is bevind dat Moribe R410 000 na bewering na sy eie bankrekeninge oorgeplaas het.
Rita Legohani het namens die eiser, Innocent Letlhoane ‘n eis ingedien teen die Padongelukkefonds. Innocent is glo aangesê om na Moribe se kantoor te kom om dokumente te teken, waarna hy op 24 Januarie 2023 naby die Ditshoswaneng-nedersetting verdwyn het.
Kolonel Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder, sê Innocent is steeds soek. Die georganiseerde misdaadeenheid ondersoek die saak. Enigeen met inligting moet speurders Olebogeng Sebegilwe by 060 864 6128 bel.
Die LPC het aangevoer Moribe het versuim om boekhouding en dokumente met betrekking tot sy trustrekening vir inspeksie te lewer. Hy het ook na bewering nie onmiddellik trustrekening-tekorte aan die Raad skriftelik gerapporteer nie, as prokureur versuim om met vaardigheid, sorg en aandag te werk en om eerlik en met integriteit op te tree. Hy was glo sedert 2019 met R22 000 agterstallig met sy jaarlikse intekenfooi aan die LPC.
Die aangestelde kurator neem nou besit van rekeningkundige rekords, lêers en dokumente, identifiseer eise teen die trustrekenings wat goedgekeur of verwerp moet word. Oorskotfondse word gebruik om eise deur die Getrouheidswaarborgfonds te vereffen.





