Die geldinsamelingspoging van Xtreme Bikers duur steeds voort nadat die groep einde verlede maand die avontuur na Boesmansgat naby Daniëlskuil onderneem het.
Die groep regsgeleerdes wat motorfiets-entoesiaste is, onderneem reeds sedert 2020 elke tweede jaar ‘n uitstappie waarmee hulle fondse vir ‘n liefdadigheidsprojek insamel.

Vanjaar se begunstigde is die Bloemfontein Hospice. Hanneke Lubbe en haar span van die hospies het die groep manne en vroue Woensdag 15 Julie na hospies genooi waar ‘n kamer na die Xtreme Bikers vernoem is.
“Ons is baie dankbaar vir die entoesiasme en energie waarmee julle geld vir hierdie saak ingesamel het,” het Lubbe by die geleentheid gesê.
Bloemfontein Hospice versorg nou sowat 50 pasiënte en daar is plek vir nege pasiënte by die hospies. Die ander word almal tuis versorg danksy ‘n kundige span en ‘n mediese kundiges.

“Vroeër jare was daar omtrent in elke dorp ‘n hospice,” vertel Lubbe. “Sedertdien het byna almal toegemaak weens ‘n gebrek aan ondersteuning.”
Sedert 2016 het Bloemfontein Hospice met die inkoop van die gemeenskap nie net aan die behoefte van so ‘n diens voldoen nie, maar dié organisasie groei.
Adv. Henk Cilliers, wat vanjaar se Xtreme Biker-uitstappie na Daniëlskuil gereël het, sê hulle was sowat 14 motorfietsryers wat die tog oor sowat 830km van Bloemfontein tot by hul bestemming gery het.
Die groep sê dit was ‘n onvergeetlike reis van avontuur, vriendskap en ‘n duidelike doel voor oë.

Die hoogtepunt was beslis die uitstappie om te gaan swem in Boesmansgat. Andries van Zyl van Mount Carmel Safaris het die besoekers met bakkies na die swemgat wat 282m diep is, geneem.
Wat vanjaar besonders maak, is ‘n bykomende geldinsamelingsgeselligheid Hofstories 2026 wat aangebied is. By die geleentheid het adv. Stanley Reinders en adv Willem Edeling stories uit hul jare in die hof gedeel.

Die groep het in 2020 geld vir die Martie du Plessis-skool ingesamel, in 2022 was die Mooihawe Bejaardesorgsentrum die begunstigdes, in 2024 het die Xtreme Bikers R300 000 vir Therapéa- kinder en jeugsorgsentrum ingesamel.
Die finale bedrag wat met vanjaar se geselligheid en uitstappie ingesamel is, word volgende week op ‘n geselligheid oorhandig.





You must be logged in to post a comment.