Twee Bloemfonteiners gaan volgende jaar in pluimbal aan die wêreld-oorplantingspele in België deelneem.
Johan Kleingeld en Janco Hoffman (17), ‘n leerder aan die Hoërskool Fichardtpark, het in September in Pretoria aan die nasionale oorplantingspele deelgeneem en hier vir die wêreldspele kwalifiseer.
Janco, wat ‘n paar jaar gelede ‘n suksesvolle nieroorplaning ontvang het, het die afgelope jaar hard aan sy pluimbal gewerk om vir die spele te kwalifiseer. Hy was vanjaar deel van die Vrystaatse junior B-span en het ook aan die Suid-Afrikaanse Junior Kampioenskappe deelgeneem.
LEES OOK: JF se pluimbalspan gekroon as topspan.
Janco, sy ouer broer Johan, en kleinboet Altus is al drie met die seldsame genetiese siekte nefronofitise gediagnoseer.
Janco is een van vier pluimbalspelers wat aan die wêreldspele gaan deelneem en is tweede op die ranglys.
Johan, ook Pluimbal Suid-Afrika se hoofafrigter, is tydens die kwalifiseringspele in Pretoria eerste op die ranglys geplaas. Hy het in 2009 ‘n nieroorplanting ondergaan .
Vanaf 2011 tot 2019 het hy elke tweede jaar, wanneer die wêreld-oorplantingspele aangebied is, deelgeneem. Johan het elke keer met sy deelname aan pluimbal goud gewen. In 2013 en 2015 het hy ook goud in die muurbal-afdeling gewen.
Sedert 2020 het pluimbal-afrigting egter voorkeur gekry en is dit vanjaar die eerste keer in jare dat hy self aan die spele gaan deelneem.
Hy sê Janco lewer baie goeie spel.
“Sy fokus is om sy gesondheid eerste te stel, en om hard op die sportveld te oefen is deel van die lewensuitkyk. Hy het sterk doelwitte.
“Dit verseker ‘n positiewe uitkyk op die lewe, wat baie belangrik vir sy gesondheid is.”





