Die landbouorganisasie Vrystaat Landbou sê die ooreenkoms tussen die minister van landbou en landbouorganisasies oor bek-en-klouseer (BKS), is ‘n oorwinning vir landbou.
Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, die nuwe minister van landbou Willie Aucamp, die voorsitter van SAAI, Theo de Jager, en die uitvoerende hoof van Sakeliga, Piet le Roux, het ‘n skikkingsooreenkoms aangegaan. Die ooreenkoms wat die regering se monopolie op die invoer en verspreiding van entstof teen BKS beperk opskort, sal die veldtog teen die verdere verspreiding van die siekte dramaties verander.
Eienaars en bestuurders van diere met gesplete hoewe, kan nou vrywillig die entstowwe teen die siekte toedien.
Hierdie ontwikkeling volg op ’n deurslaggewende hofuitspraak vroeër vanjaar waarin die Pretoriase Hooggeregshof bevestig het dat veeboere wettiglik geregistreerde BKS-entstowwe privaat mag bekom en aan hul diere mag toedien.
Wilken sê dat die uitspraak en uiteindelike skikking is ’n belangrike keerpunt in die bestuur van die BKS-krisis in Suid-Afrika.
“Dit verwyder onnodige regulatoriese struikelblokke en staatsmonopolie en maak dit vir die private sektor moontlik om ’n daadwerklike rol te speel in die beskerming van die nasionale kudde.”
Hy sê verder dat Vrystaat Landbou deurentyd volgehou het dat samewerking tussen die staat en die private sektor noodsaaklik is om die verspreiding van die siekte effektief te beperk. Die organisasie het saam met ander rolspelers, Sakeliga en Saai, regsaksie ingestel om die staat se belemmering van privaat invoer – en inentingspogings te beëindig en sodoende praktiese oplossings vir produsente te verseker.
“Hierdie skikking bevestig wat ons van die begin af gesê het, naamlik dat boere deel van die oplossing moet wees. Dit verleen aan produsente die nodige reg om hul kuddes te beskerm en dra by tot groter stabiliteit in die landbousektor,” sê Wilken.
Die Vrystaatse Departement van Landbou, Landelike Ontwikkeling en Omgewingsake sê daar was vandeesweek 14 nuwe gevalle van bek-en-klouseer in die Vrystaat. Dit bring die totale aantal gevalle in die Vrystaat op 679 bevestigde gevalle. Tot dusver is die voorkoms van die siekte in 19 distrikte van plaaslike munisipaliteite aangemeld.
Moliehi Moeng, woordvoerder van die departement, sê as deel van die implementering van die nasionale veldtog, is 1 200 877 vee al met die Biogenesis Bago en Dollvet entstowwe ingeënt.






