Wanneer my oorsese verblyf, wat oor byna twee dekades gestrek het, in ‘n geselskap ter sprake kom, is die onmiddellike aanname vir die dryfveer agter my terugkeer huis toe, gewoonlik die ysige winters.
Om dan telkens te moet verduidelik dat dit veel eerder die koue in my hart was wat my teruggedryf het na my land, is dikwels ‘n groot uitdaging.
Die viering van Erfenisdag laat my onwillekeurig nie net terugdink aan my eie verblyf in die verte nie, maar ook aan die honderdduidende Suid-Afrikaners wat ‘n heenkome dwarsoor al die kontinente vind.
So dikwels gesels ek met ouers wie se kinders kort tevore ver weg verhuis het.
En dan, soos so baie ander kere, neem ek die verdedigingstentakels wat oombliklik uitskiet, waar.
Agter uitsprake soos “beter loopbane”, wonderlike geleentheid”, “toekomsvooruitsigte vir die kleinkinders”, kyk ek op in ‘n pa en ‘n ma se oë waarin daar terselfdertyd matelose verlange, skynsels van verlies, soms selfs ‘n brose verdwaaldheid skuil.
Nooit sal ek enige voornemende landgenoot wat beplan om te emigreer, oordeel nie, want redes vir emigrasie strek so wyd soos die omtrek van die wêreld self.
Wat 18 jaar se wegwees uit my land weliswaar in my hart kom lêplek gee het, is ‘n gevoel van empatie vir elke landverlater, want ek weet die pad berg-op is styl en moeisaam.
Sommiges bereik die kruin, ander, soos ek, draai om en keer na my mense, my taal en my eie heil terug.
Sedert my terugkoms agt jaar gelede, dink ek dikwels, veral op ‘n dag van erfenisviering, aan my landgenote daar ver.
Oor die water stuur ek dan die wens dat ons versugting, “eenheid in diversiteit” hier ter plaatse, ook hulle leuse daar aan die anderkant sal word.
En hul verlangende hartsmense wil ek troos – duisende myle van hier klink woorde soos trokkie, bakgat, antie en boet, oupa en ouma – daardie woorde by julle geleer – steeds oral op.






