Opposisiepartye in die Mangaung-metro sê wetgewing is nie gevolg nie en die raad gaan sy reses vir die plaaslike verkiesing op 4 November in sonder dat sy werk afgehandel is.
Die speaker van die metroraad Lawrence Mathae het op Dinsdag 27 Oktober ‘n aanlyn-vergadering belê met slegs een item op die agenda, naamlik die aanbreek van die raad se reses van 28 Oktober tot 3 November.
LEES OOK: Kiesers het keuse in samestelling van plaaslike regering.
Die vorige raadsvergedering wat einde September moes plaasvind, is gekanselleer. Op dié agenda was daar talle belangrike geldelike verslae oor die eerste kwartaal se dienslewering- en begrotingsplanne wat goedgekeur moes word.

DA-raadslid Hardie Viviers sê daar is vrae oor waarom die speaker ‘n reses belê voordat die raad se wetlike pligte afgehandel is. Hy verduidelik die raad moes belangrike verslae oorweeg, insluitend die eerste kwartaal se dienslewering- en begrotingsimplementeringsplan (SDBIP), kwartaallikse finansiële en begrotingsprestasie-verslae, voorsieningskettingbestuur-verslae, en oudit- en prestasiekomitee-verslae.
“Hierdie verslae is noodsaaklik om die uitvoerende burgemeester, stadsbestuurder en munisipale administrasie aanspreeklik te hou vir die uitvoering van hul pligte.”
Saam met die DA het die VF Plus ook Dinsdag beswaar aangetekend op die vergadering oor werk wat nie afgehandel is nie.
VF Plus-raadslid Braam Vorster sê volgens die Munisipale Finansiële Bestuurswet moet die burgemeester binne 30 dae ná die einde van elke kwartaal aan die raad verslag doen oor die uitvoering van die begroting en die metro se finansiële posisie. Die sperdatum vir die eerste kwartaalverslag is 30 Oktober.
Hy sê hierdie verslae is reeds op 15 Oktober deur die stadsbestuurder, Sello More, gefinaliseer en onderteken. “Daar was dus voldoende tyd om dit voor die huidige raad te dien en die vereiste prosesse betyds af te handel,” sê Vorster.
“Die kern van die probleem is swak politieke bestuur. Van die laat indiening van kandidaatlyste tot die voortdurende versuim om statutêre verpligtinge betyds na te kom, toon die ANC telkens dat sperdatums en goeie administrasie nie ’n prioriteit is nie.
“Raadslede word deur inwoners verkies en betaal om hul belange eerste te stel. Die administrasie en bestuur van die metro kan nie eenvoudig tot stilstand kom omdat die ANC se fokus op verkiesingsveldtogte val nie.”
Viviers sê selfs erger nog, is die impak wat die raad se nie-nakoming van wetgewing op die Desember-uitbetaling deur Nasionale Tesourie kan hê.
Die Nasionale Tesourie het reeds ernstige kommer uitgespreek oor Mangaung se volgehoue finansiële nie-nakoming, insluitend ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes. In Julie het die Nasionale Tesourie Mangaung geïdentifiseer onder munisipaliteite van wie sy billike aandeeltoewysing weerhou kon word.
LEES OOK: Mangaung ook sonder fondse van Nasionale Tesourie.
“Die DA is besorg dat verdere versuim om aan die Nasionale Tesourie se vereistes te voldoen, toekomstige oordragte in gevaar kan stel, wat bykomende druk op die munisipaliteit se gespanne finansies plaas.”
Dirk Kotzé, ‘n raadslid van die DA, sê een van die sake waaroor daar onder meer vrae is, is die sowat R13 miljoen wat sedert die begin van die geldjaar op 1 Julie aan menslike nedersettings spandeer is. “Dit is sowat 86% van die jaar se begroting. Daar is geen aanduiding in die verslag waarop die geld bestee is nie.” Omdat die verslag nooit amptelik gedien het nie, kon opposissiepartye ook geen vrae in die raad daaroor rig nie.
Viviers sê die DA het voorheen ‘n mosie van wantroue teen Mathae ingedien oor sy hantering van raadsake en sy versuim om doeltreffende aanspreeklikheid te verseker.
“Die ANC het ons poging om hom te verwyder, teëgestaan, wat hom toegelaat het om in sy amp te bly ondanks ernstige beswaar. Die DA handhaaf dat die Speaker nie sy verantwoordelikhede doeltreffend vervul nie en dat die ANC se volgehoue politieke steun betekenisvolle aanspreeklikheid verhoed het.”
Hy sê die uittredende raad moet verantwoording doen vir sy besluite en die munisipaliteit se geldelike posisie voordat dit oordrag aan die nuutverkose raad doen. ” ‘n Verkiesing skort nie wetlike verpligtinge of aanspreeklikheid op nie.”





You must be logged in to post a comment.