NovaNews

KYK | Pret en ‘watersport’ in die Kalahari wanneer die rivier sy walle oorstroom

, ,

Sit jy in Van Zylsrus op die hotel of die Kgalagadi-gastehuis se stoep, verlustig jy jou aan die rooi Kalahari-sandduin, die massiewe kameeldoringbome en die stoffies wat so effens in die laagtetjie voor die duin uitslaan. Jy kyk na die kinders hoog teen die duin wat hulself met allerlei speletjies besig hou dat die stof so trek, en jy sien hoe inwoners dié stofpad tussen huis en werk uitstap.

Maar wanneer dit reën – én reën – in dié deel van die Kalahari en die omliggende omgewing verander dié uitsig drasties. Wanneer genoeg reën in die opvangsgebied van die Kurumanrivier neersak, word dié Noord-Kaapse dorpie as te ware in twee gedeel deur die koms van die water.

En vanjaar het die water in oorvloed gekom. Waar die stoffies nog kort gelede uitgeslaan het, was daar meteens die sproei van ‘n skiër wat agter ‘n rubberboot getrek word.

Sit jy op die hotel of gastehuis se stoep, sou jou voete waarskynlik nat gewees het, en sou jy uitkyk hoe Van Zylsrus se mense planne maak om heen en weer oor dié rivier te kom. Of jy sou hoor van die swemmery in die vendusiekraal.

Van Zylsrus wanneer die Kurumanrivier vol is, Mei 2026
Inwoners van Van Zylsrus word oor die Kurumanrivier vervoer. FOTO: Wynand Luttig

Vendusiekraal word swemplek

Op navraag sê Wynand Luttig dat hy die man op die video is wat in die vendusiekraal geswem het. Vir hom was dit ‘n eerste keer om in so ‘n struktuur te swem. Hy is die eienaar van die Kgalagadi-gastehuis en agent van die veilingshuis, Noord-Kaap Lewende Hawe. In 2021, vertel hy, het die rivier ook redelik water gekry, maar die water het net tot by die voetstuk van die kraal opgestoot.

Wynand Luttig swem in die vendusiekraal in Van Zylsrus. VIDEO: Org Delport

Wynand vertel dat die Kurumanrivier op Sondagoggend 3 Mei, omstreeks halftwee, oor die brug in Van Zylsrus begin stoot het. Die water het so vinnig opgestoot dat hy teen Maandagoggend 4 Mei in die kraal kon swem.

Waar die rivier die dorp in twee gedeel het, was die water tot ongeveer drie meter diep. Die watervlak het boonop die watermerk van 1974 oortref.

Van Zylsrus wanneer die Kurumanrivier vol is, Mei 2026
Gerhard Luttig wys die watervlak van 2021 (onderste hand) teenoor die watervlak van 2026. FOTO: Wynand Luttig

Omdat inwoners heen en weer oor die rivier moes kom, is planne beraam. ‘n Vlot is gemaak met paletplanke en agt leë 210-liter waterdromme. Aanvanklik is die vlot ook met ‘n enjin toegerus, maar later is toue oor die rivier gespan waarlangs die vlot heen en weer katrol kon word. Pasiënte wat by die kliniek moes uitkom, is ook oor die rivier vervoer – met monitors en ander mediese toerusting saam op die vlot.

Maar dit was nie net werksake nie.

Waterski in die Kalahari

“Saterdag (9 Mei) was daar ses bote – groot, klein, en vlotte – op die water. Daar het ook vyf vliegtuie oorgevlieg om dit te sien. Dit is werklik raar dat die rivier se watervlak so hoog was. Ons het dit almal saam geniet,” sê Wynand.

Van Zylsrus wanneer die Kurumanrivier vol is, Mei 2026
Die stoep van die Kgalagadi-gastehuis. FOTO: Wynand Luttig

Hy vertel Kobus Oosthuizen van Vryburg het spesiaal ‘n rubberboot vir die geleentheid gekoop, en mense het van ver gekom om boot in die hoofstraat van Van Zylsrus – in die Kalahari, tussen die duine – te ry. Christo Oosthuizen en sy seun het ook agter die rubberboot geski.

Teen Woensdag 13 Mei omstreeks 12:00 het die watervlak al heelwat gesak en die brug kon weer gebruik word, hoewel daar steeds ‘n invloei plaasvind.

Kurumanrivier byt vas en druk deur

Maar dié skouspel het nie by Van Zylsrus opgehou nie: Die water in die Kurumanrivier het deurgedruk en vir die eerste keer sedert 1988 tot by die Molopo-rivier verby Askham gestoot.

Gert van Zyl van Askham, en eienaar van Thirstland Trails, vertel dié samevloeiing het Sondag 10 Mei omstreeks 11:00 begin. Vir hom was dit ‘n belewenis om te aanskou, en het sy toerisme-onderneming daarby gebaat omdat mense van heinde en verre ná die samevloeiing wou kom kyk.

Hy vertel hoewel die pad tussen Askham en Van Zylsrus – wat al langs die Kurumanrivier kronkel – kort gelede nog onbegaanbaar was, kan dit nou weer gebruik word. Teen Woensdagoggend was daar nog ses plekke waar die rivier die pad kruis, maar tydelike ompaaie is daarvoor gemaak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article