BLOEMFONTEIN – ‘n Splinternuwe Toyota Vitz kan gewen word tydens vanjaar se Carols with the Stars op Vrydag 13 November.
Pick n Pay Preller Walk is weer die hoofborg van die geleentheid waar vriende, familie en gesinne saam kan kuier op die Laerskool Willem Postma se sportveld in die gees van Kersfees wat voorlê.

Sangers op vanjaar se Carols with the Stars is Ecletic met Cèzanne Yzelle, Thabo Hlongwane en Mario Lategan, sowel as ThaRo met Jacobus Silwer, Mario Lategan en Thabo Hlongwane. Hulle sal ligte Afrikaanse musiek sing, ‘n ABBA-keur en afsluit met bekende Kersliedjies wat die gehoor sal kan saamsing.
Om in aanmerking te kom vir die Toyota Vitz, moet klante vir R500 of meer inkopies doen by Pick n Pay Preller Walk. Skryf agter op die inkopiestroie jou naam en van, ID-nommer en selnommer. Gooi die stokie met jou naam op in die spesiaal gemerkte houers by Pick n Pay Preller Walk. Jy kan soveel keer inskryf soos wat jy wil, solank dit elke keer vir R500 is en die strokie korrek ingevul is.
Die trekking sal die aand ná die hoofprogram by Willem Postma plaasvind. Deelnemers aan die kompetisie wat ‘n strokie in die houer gegooi het, moet die aand teenwoordig wees om te kan wen. Bring jou ID en ‘n geldige rybewys saam.
Daar sal ook ‘n Kersmark met stalletjies en eetgoed wees wat van 16:00 op die sportveld sal oopwees. Die musiekprogram begin om 18:00 en die trekking van die prys behoort ongeveer om 20:00 plaas te vind.
Toegang is R10 wat op die terrein betaalbaar is. Die toegangsgeld vir die aand gaan aan Vrystaat-nasorgsentrum en die diere-reddingsorganisasie New Beginnings.
Merk solank 13 November in jou dagboek om seker te maak dat jy ‘n aand gevul met die heerlike Kersfeesgees saam met geliefdes beleef.






You must be logged in to post a comment.