‘n Gr. 2-Leerder van die Laerskool Fichardtpark is pas aangewys as die wenner in ‘n nasionale skoonheidskompetiie.

Cate Cilliers (8) is op Saterdag 21 Maart gekroon as Miss Teen Universe Suid-Afrika in die afdeling Mini Model of the World. Die kompetisie is die naweek in Polokwane aangebied.

Die jong model van V-Models in Bloemfontein, het in aanloop tot die kompetisie liefdadigheidwerk by die Bloemfontein-dierebeskermingsvereniging en by Angel Arms gedoen.

Cate se oorwinning maak nou vir haar deure oop om internasionaal deel te neem.

Carli Sutherland, die nuwe afrigter by V-Models, sê Cate se kroning op so ‘n jong ouderdom is ‘n groot mylpaal en wys op haar toewyding, passie en natuurlike bekwaamheid.

Cate Cilliers
Cate Cilliers (8).

“Ongeag haar jong ouderdom het sy merkwaardige grasie, selfversekering en deursettingsvermoë,” sê Carli. “Daar is toenemend jong Suid-Afrikaanse talent in die model en skoonheidsbedryf en Cate se oorwinning is nog ‘n teken daarvan,” sê sy.

“Haar oorwinning is nie net vir haar ‘n groot deurbraak nie, maar ook ‘n trotse oomblik vir haar agentskap en haar gemeenskap.”

Cate is in Desember verlede jaar gekroon as V-Models se junior model van die jaar en ook skoonheidskompetisiewenner van die jaar. Sy het al in verskeie tydskrifte verskyn soos Modern Kid Magazine, Young Model Magazine en die Photography, Pageantry, Modeling and Competitions (PPMC) Magazine.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article