‘n Bejaarde vrou en haar seun van Extonweg in Hilton, Bloemfontein wag reeds 18 dae vir Centlec om die krag na hul huis te herstel.

Die kragkabel tussen hul huis en die aansluiting in die straat is stukkend, waarskynlik weens kabeldiefstal.

Ds. Jannie Smith (links) en wyksraadslid Pieter Lotriet by die kragpaal oorkant die inwoners se huis.
Ds. Jannie Smith (links) en wyksraadslid Pieter Lotriet by die kragpaal oorkant die inwoners se huis. FOTO: Lientjie Mentz

Pieter Lotriet, die DA-wyksraadslid vir Hilton insluit, sê die inwoners het presies gedoen wat Centlec van hulle vereis het om die voorval aan te meld. Hy sê waar slegs een huis se krag deur diefstal of beskadiging geraak is, moet die voorval by Centlec se kantore op voorgeskrewe vorms aangemeld word. Die inwoners moet self die saak by die polisie aanmeld.

Hy sê die inwoners het dit gedoen en het ‘n verwysingsnommer, maar wag steeds dat die kabel herstel word.

Lotriet sê hy het self die saak by die voormalige uitvoerende hoof en ook die waarnemende hoof van Centlec aangemeld omdat die inwoners reeds moedeloos is. Hulle het egter gesê dat die saak reeds aan die betrokke afdeling gedelegeer is.

Ds. Jannie Smith van die NG kerk Bloemdal in wie se gemeente die inwoners val, het ook probeer ingryp. Hy sê dit is ongehoord dat mense in die donker en koue moet sit terwyl hulle elke maand hul rekeninge betaal. “Waarom word die slagoffers soos kriminele behandel? Die boodskap wat deurkom is dat Centlec geen respek vir inwoners het, ongeag of hul, hul rekeninge betaal nie.”

Die kragkabel wat van die huis in Extonweg af hang.
Die kragkabel wat van die huis in Extonstraat af hang. FOTO: Verskaf

Lotriet sê wanneer al die blokkies afgemerk is, al die vorms ingevul is, al die beëdigde verklarings ingedien is en al die vrae gevra is, moet iemand tog uiteindelik die krag herstel.

“Die benadering herinner my aan ‘n Sheriff Trump in ‘n Hollywood-western wat besluit dat, omdat sommige ski-bote langs die kus van Venezuela dalk dwelms smokkel, die logiese oplossing is om elke ski-boot wat hy sien uit die water te skiet.

“Dit mag dalk ‘n doeltreffende manier wees om misdadigers vas te trek, maar dit skep ongelukkig sekere probleme vir onskuldige vissermanne.

“Dieselfde beginsel geld hier. Ons kan nie elke slagoffer van kabeldiefstal as ‘n verdagte behandel nie. Die doel van ‘n ondersoek is om skuldiges te identifiseer waar skuld bestaan, nie om wetsgehoorsame inwoners vir onbepaalde tye sonder ‘n noodsaaklike diens te laat sit nie.”

Hy sê indien daar ‘n geldige rede vir die vertraging is, behoort dit gekommunikeer te word. Indien nie, behoort die probleem sonder verdere versuim opgelos te word.

Smith sê dit is onregverdig dat bejaardes en gewone inwoners ly weens Centlec se onbevoegdheid.

“Ons verstaan dat kabeldiefstal ‘n realiteit is en daarom moet Centlec belê in ‘n verbeterde veiligheidsafdeling,” sê Lotriet. “Onskuldige inwoners moet nie daaroor gestraf word nie.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • BloemNewsExpress – E-Edition – 4 June 2026
    BloemNewExpress

Gift this article