Die ANC kan en wil nie ons erfenis beskerm nie. Só sê Armand Cloete, VF Plus-lid van die Vrystaatse Wetgewer, oor die onlangse inbraak by die Ou Presidensie.
Tankiso Zola, woordvoerder vir die departement sport, kuns, kultuur en rekreasie, het bevestig dat daar ‘n inbraak by dié museum in President Brandstraat in die stad was.
“Die saak is by die polisie aangemeld en hulle ondersoek dit nog,” het Zola aan BloemNuusExpress gesê.
Nancy Bialowons, voormalige kurator by die Ou Presidensie, sê sy is diep geskok om te lees oor die diefstal van twee borsbeelde by die Ou Presidensie.

“In my dienstydperk van meer as 20 jaar as kurator, was daar verskeie pogings tot inbraak – meestal in die nag.
“Danksy ‘n effektiewe alarmstelsel is ek onmiddellik in kennis gestel en kon ek ‘n lid van die polisie ontbied om my daar te ontmoet. Só kon ons diefstal verhoed.”
Sy wil weet of daar nou ‘n alarmstelsel is om die verantwoordelike persoon te waarsku teen inbrake.
Werner Pretorius, die DA se woordvoerder oor sport, kuns, kultuur en rekreasie, sê die departement waaronder die Ou Presidensie val, bestuur 12 museums in die Vrystaat. Hy sê die LUR het in 2024 gesê dat daar dag- en nag veiligheidspersoneel by dié museums is. “Die inbraak skep ernstige vrae oor die doeltreffendheid van die veiligheidsmaatreëls by die museum en of die departement dit behoorlik implementeer,” sê hy.
Lambertus van Rensburg sê twee borsbeelde, dié van oudpresidente Steyn en Reitz, is tydens die inbraak gebuit.
Cloete sê die Ou Presidensie is reeds jare onderfinansier. “Die infrastruktuur word nie behoorlik in stand gehou nie,” sê hy.
” ‘n Inbraak van dié aard wys ook hoe diep misdaad reeds in alle aspekte van die samelewing ingegrawe is.”
Cloete sê dit is ‘n skande. “Die ware in die Ou Presidensie is van onskatbare waarde en dit wat nou gesteel is, is vir toekomstige geslagte verlore.”
Zola sê die departement se veiligheidsafdeling ondersoek nou die sekuriteit van die museum.
Daar was blykbaar geen elektrisiteitstoevoer op die naweek van 4 en 5 Julie toe die inbraak plaasgevind het nie.







You must be logged in to post a comment.