Duisende mense is die afgelope 60 jaar deur die Aurora-sentrum gehelp om ‘n nuwe begin aan te gryp.
Die Aurora Alkohol en Dwelmsentrum is die enigste geregistreerde detoksifikasie-sentrum vir mense wat ly aan afhanklikheid van alkohol en dwelms in die Vrystaat.
Marietjie Landsberg, direkteur van Aurora, sê dit is kommerwekkend dat die meeste pasiënte wat behandel word, jonger as 35 jaar is.
Die afgelope boekjaar het 201 volwasse pasiënte behandeling ontvang, terwyl 53 jongmense in Aurora behandeling ontvang het. Van hulle het 11 pasiënte ontgifting-behandeling ondergaan. Ook, 23 buite-pasiënte is behandel. Die oudste pasiënt wat vanjaar behandeling ontvang het, was 74 jaar oud.
Landsberg sê dit is kommerwekkend dat jonger pasiënte opgeneem word vir afhanklikheid aan meer as een middel. In die ouderdomsgroep 14 tot 25 jaar is 87 gevalle waar die pasiënt meer as een middel misbruik. Sy sê dit is opmerklik dat verslawing aan damp-rook (“vape”) en energiedrankies toeneem, veral onder jeug.
In die ses dekades is 13 953 volwassenes, 720 jeugdiges (sedert 2010) en 1 529 buite-pasiënte se lewe aangeraak.
Ds. Jannie Smith is op die jaarvergadering vereer vir 30 jaar as voorsitter van Aurora.
Landsberg sê Aurora is bevoorreg om leiding te ontvang van so ‘n leier. “Hy beklee die posisie met toewyding, kennis en integriteit.”
“Ons is dankbaar vir drie dekades van sy uitsonderlike leierskap en ‘n onwrikbare toewyding,” het Landsberg op die vergadering gesê.






