Thomokazi Nkxenkile, huismoeder van El Pizo House of Hope, met een van die vondelingbabas; en Helen en Deon Bosch, met nog een van die babas.

Babas ‘n kans op lewe gegee

,
Thomokazi Nkxenkile, huismoeder van El Pizo House of Hope, met een van die vondelingbabas; en Helen en Deon Bosch, met nog een van die babas.

‘n Huis wat ‘n heenkome bied vir pasgebore babas wie se ma’s hulle agterlaat, vier vanjaar sy 20ste verjaardag.

El Pizo House of Hope in Hospitaalpark het die afgelope twee dekades reeds 380 babas van geboorte tot ongeveer twee jaar versorg.

Pastoor Deon Bosch en sy vrou, Helen, is al sowat 16 jaar nou betrokke by die huis.

Deon verduidelik die huis kan sowat 12 vondelingbabas op ‘n slag versorg.

“Van die slegste gevalle wat ons gehad het, is die baba wat op die ashoop gevind is; en ook onlangs ‘n baba wat langs die N1 onder ‘n brug gevind is.

Leerders van die Christian Brother's College (CBC) in Dan Pienaar het die huis besoek
Leerders van die Christian Brother’s College (CBC) in Dan Pienaar het die huis besoek en skenkings oorhandig. FOTO’S: Lientjie Mentz

“Die mees onlangse vondeling was ‘n premature baba van 1,8 kg waarvan die mamma net uit die hospitaal verdwyn het.

“Babas wat hierheen kom, is byna almal erg ondervoed.”

Hy sê daar is nege personeellede wat saam met die huismoeder, Thomokazi Nkxenkile, werk om die babas te versorg.

Daar is darem ook goeie stories, soos dié van die baba wat onlangs met ‘n internasionale aanneming ‘n nuwe huis gekry het.

“Een van die babas wat by ons was, was verlede jaar ‘n dux-leerder in gr. 7.”

Deon sê die huis is by die departement van maatskaplike ontwikkeling geregistreer.

“Ons kry ‘n subsidie, maar ons het elke maand ‘n groot tekort wat ons moet aanvul.

“Skenkings help ons baie om ons rekeninge te betaal. Ons gebruik baie doeke, babaklere, vars groente en maalvleis; en al die produkte wat ‘n baba nodig het soos salf, babaseep en poeier. Die babas kry ook Infacare-melk.”

Hy sê die huis het nou ‘n groot uitdaging om die voertuig te laat versien en hulle hoop iemand bied aan om dit te doen.

Hulle benodig ook iemand wat hulle kan help om die huis se matte te was.

“Ons waardeer dit as vrywilligers met die babas kom speel.

“Die gemeenskap van Bloemfontein se hande is regtig oop vir hierdie projek.

“Ons wil regtig dankie sê vir 20 jaar se omgee en almal wat al gehelp het om dié babas te help op pad na ‘n mooi lewe.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article