Die laaste Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks-kragmeting vir die kwartaal is Saterdag 23 Mei tussen die Hoërskool Jim Fouché (JF) en die Hoërskool Diamantveld van Kimberley beslis.
Tydens die naweek is nege netbalwedstryde, ses hokkie- en sewe rugbywedstryde gespeel. Weens nat netbalbane kon van die wedstryde nie plaasvind nie. Hierdie wedstryde sal dus eers in die derde kwartaal gespeel word.
JF het ses netbalwedstryde gewen. Die skool se o.19C-span het 41 – 7 gewen met Elanelle Strydom wat ‘n uitstekende vertoning gelewer het. Elanelle was sterk in haar verdediging en het belangrike balle onderskep en omgedraai.

Twee seunshokkiewedstryde is beslis waarvan JF en Diamantveld elk een gewen het. Die telling vir die o.16A-seuns was 2 – 0.
JF het uitstekend gevaar in meisieshokkie en al vier sy wedstryde gewen. Die o.14A-meisies het hul wedstryd 2 – 0 gewen met Liané Hugo wat uitgestaan het met goeie balbeheer. Die eerste meisiespan het oortuigend met 8 – 3 gewen. Die speler van die wedstryd was Masego Phala van JF wat drie doele aangeteken het. Linke Swart het op die dag haar 50ste wedstryd vir die eerstespan gespeel.
JF het een rugbywedstyd gespeel. Die skool se eerste span wen 23 – 22. Jùan Swart en Johan van Dyk het drieë gedruk, en JG Noeth het vyf skoppe oor die pale geknikker.

Die speler van die wedstryd was Johan van Dyk. Hy het verlede naweek nog vir die o.19B-span gespeel en toe Saterdag die geleentheid met albei hande aangegryp.
Jùan Swart se briljante spelpeil gaan voort. Hy het die vorige naweek tydens die wedstryd teen die Hoërskool Sentraal drie drieë gedruk. Sy verdediging het talle spelers in hul spore gestuit.
JG Noeth het skitterende ‘n strafskop oorgesit net voor die halflyn vir die wenpunte.







You must be logged in to post a comment.