Dit was ‘n bedrywige naweek op die sportveld hier kort voor die skoolvakansie
By die Hoërskool Sentraal is die eerste hokkiewedstryde van die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks teen die Goudveld-Hoërskool reeds op Donderdag 19 Maart gespeel.
Een van die hoogtepunte van die dag was die o.16A-meisiespan van Sentraal wat ‘n indrukwekkende 8 – 0 oorwinning oor hul eweknieë van Goudveld behaal het.
Anel Fourie het uitgeblink met drie doele, terwyl Dete Jansen en Chelsey Flanigan ook met hul spel beïndruk het. Emma Nel se uitsonderlike werktempo het verder bygedra tot die span se oorheersing op die veld. Die span word afgerig deur Danielle Labuschagne.

Vrydag is die hokkie-, rugby- en netbalwedstryde gespeel. Altesaam 11 wedstryde is gespeel, waarvan Sentraal 10 gewen het. Die enigste terugslag was vir die o.16A-netbalspan, wat teen Goudveld vasgeval het.
Swaar weerstoestande het ook ‘n invloed op die program gehad. Die eerstespan-netbalwedstryd asook die rugbywedstryd van die eerstespanne kon nie plaasvind nie en sal op ‘n latere stadium ingehaal word.

Die Hoërskool Fichardtpark (Fichies) was die gasheerskool vir die Hoërskool Trio van Kroonstad. Fichies was baas in al die o.14-, o.1-5, o.16-wedstryde. Fichies se eerste netbalspan het hul wedstryd ook met 41 – 30 gewen
Trio se eerste meisiehokkiespan het hul wedstryd met 6 – 1 oorheers. Die eerste seunswedstryd het 2 – 2 gelykop geeindig.
In ‘n titaniese wedstryd het die Fichie-Leeus Trio se eerste rugbyspan met 22 – 19 getroef.
Daar was 16 netbal-, 12 hokkie- en nege rugbywedstryde tussen die Hoërskool Jim Fouché (JF) en Hoërskool Witteberg van Bethlehem.
JF wen 14 netbalwedstryde, speel een gelykop en verloor een. Die o.19C-span wen 30 – 7 met Liezaan Louw (HV) wat talle balle onderskep het en die spel se momentum gedraai het. JF se eerste netbalspan wen 39 – 26.
Karmen Strauss het vir die eerste keer hierdie jaar al vier kwarte gespeel en sy het haarself goed bewys onder druk. Miqnia Coetzee (JF) was speler van die wedstryd.
JF se seunshokkiespanne het al vyf hul wedstryde gewen. Die seuns o.16B-span klop Witteberg 7 – 0. HJ de Villiers was speler van die wedstryd.
Die eerste seunspan wen met ‘n telling van 4-0 en JF se Ruan Kleyn is die speler van die wedstryd.
JF se hokkiemeisies het vier wedstryde gewen en Witteberg het drie wedstryde gewen.
In die meisieshokkiespanne se eerstespan-kragmeting wen JF 3-1. Minke Labuschagne van JF wat twee van die drie doele aangeteken het, is aangewys as speler vandie wedstryd.
Die rugby was mededingend met JF wat drie wedstryde gewen het en Witteberg wat ses gewen het. JF se eerste rugbyspan wen 24-19 nadat die spanne teen halftyd gelykop 5-5 was.
Drieë is gedruk deur Stefan Labuschagne, Christiaan Jacobs, Arno Smit en die wendrie in die laaste sekondes van die wedstryd is deur Madiba Mtamzima gedruk.
Christiaan is ook aangewys as die speler van die wedstryd.
Sien wie is betrokke by die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks.








You must be logged in to post a comment.