‘n Matriekleerder van die Hoërskool Sentraal het Saterdag 2 Mei ‘n eerbewys van die Suid-Afrikaanse Radioliga (SARL) ontvang vir sy bydrae tot amateurradio.
Rulhof van der Merwe is op die SARL se nasionale konfensie en jaarvergadering, wat van 1 tot 3 Mei in Gqeberha plaasgevind het, met die SARL se Jong Amateur-uitnemendheidseerbewys vereer.
Hy het in Mei 2022, toe hy 13 jaar oud was, die amateurradio-eksamen suksesvol afgelê en sy roepsein ZU4R verwerf. Daarna het hy die uitdaging gepak om sy ZS-roepsein te bekom. Die roepsein ZS4RM is aan hom toegeken twee dae voor sy 15de verjaardag.
Rulhof het ‘n suksesvolle amateurradionetwerk in die Suid-Kaap begin om plaaslik, maar ook wêreldwyd, te kommunikeer met ‘n klein tweerigting-radio.
Hy het ook ‘n Echolink-netwerk in Bloemfontein vir plaaslike radio-amateurs begin.
Hy wil graag nuusbulletins, amateurradio-gesprekke en die uitsaai van interessante gebeurtenisse oor dele van die land en wêreldwyd uitsaai.
Die eerbewys is aan Rulhof toegeken vir sy aktiwiteite om die stokperdjie te bevorder. Ook omdat hy saam met die Bloemfontein-amateur-radioklub Voortrekkers gehelp het om hul kommunikasie-kentekens te verwerf en om die All-Star- draagbare node met Echolink in Bloemfontein op die lug te kry. Hy neem ook gereeld aan kompetisies deel.






