‘n Bloemfonteinse egpaar is Maandag in ‘n motor-ongeluk in Kenneth Kaundaweg, tussen Northridge Mall en Urth, dood.

Jannie en Zelda van der Linde, onderskeidelik 65 en 63 jaar oud, is op slag dood. Dié dag, 4 Mei, was Zelda se verjaardag.

Jannie (65) en Zelda (63) van der Linde.
Jannie (65) en Zelda (63) van der Linde. FOTO: Verskaf

Die egpaar se seuns, Ian en Jan, woon onderskeidelik in Nederland en Ierland.

Ian het Maandag ‘n kennisgewing van sy pa se Apple-horlosie gekry dat hy pas in ‘n ongeluk was.

Hy het sy neef Sarel van der Linde in Bloemfontein gekontak om na die ligging te gaan van waar die kennigsgewing gestuur is.

Die ongeluk waarin 'n egpaar gister in Kenneth Kaundaweg dood is
Die ongeluk waarin ‘n egpaar gister in Kenneth Kaundaweg dood is. FOTO: VR Med

Sarel moes die slegte tyding aan die egpaar se twee seuns oordra.

Braam van Zyl van die Mangaung-brandweer sê die egpaar het in hul Hyundai i10 uit die rigting van die snelweg na die stad gery toe ‘n man in ‘n Toyota-bakkie, wat van Northridge Mall se rigting gery het, beheer oor sy voertuig verloor het.

Die bakkie het van voor teen die Hyundai gebots.

Die ongeluk het in die gietende reën plaasgevind wat Maandag oor Bloemfontein uitgesak het.

Van Zyl sê die brandweer is om 15:31 in verband met die ongeluk gekontak, en personeel het hulle na die toneel gehaas.

Die twee insittendes van die Huyndai is met meganiese reddingskake uit die voertuig gehaal, maar altwee is op die toneel dood verklaar.

Die bestuurder van die bakkie is beseer en is deur ER24 na die Mediclinic Bloemfontein gebring.

Op ‘n video wat op die sosiale media versprei word, kan gesien word hoe die bakkie na regs oor die pad swenk en teen ‘n ander voertuig bots.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article