Ná die skoolvakansie is die tweede kwartaal reeds weer goed op dreef met die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks wat op 11 April met ‘n derby tussen die Hoërskool Fichardtpark en die Hoërskool Jim Fouché begin het.
Dit was die Stryd van die Suide, met Fichardtpark wat baas was in agt uit nege van die rugbywedstryde.
Die Fichie-leeus het tydens die eerstespanwedstryd met hul vaart beïndruk. Vroeër die jaar het dieselfde seuns reeds ‘n waarskuwing gerig aan hul teenstanders met die verowering van die goue medalje tydens die Vrystaatse Hoërskole-atletiekkampioenskappe se o.19-aflositem.

In rugbyterme is daar ‘n sêding: Daar is geen teenvoeter vir ware spoed nie. JF se “Green Machine” het egter nooit gaan lê nie en het enduit beïndruk met rotsvaste verdediging. Die Fichie-leeus het uiteindelik met 29–17 geseëvier.
JF het die eerstespan-meisiehokkiewedstryd met 4–0 gewen.
Die groot verrassing was egter die eerstespan-seunshokkiewedstryd. Voor die wedstryd was JF die gunsteling. Die Fichie-hokkieseuns het ander planne gehad en verras met ‘n 2–1-oorwinning.
Die netbalwedstryde is Dinsdag 14 April beslis met JF se eerstespan wat 51-39 gewen het. Fichies se junior spanne het hul wedstyde oorheers.

Hierdie naweek op 18 April speel Fichardtpark teen hul ander eweknië in die stad die Hoërskool Sentraal op Fichardpark se tuisveld. Hoërskool Goudveld is die gasheer vir die Hoërskool Trio van Kroonstad.







You must be logged in to post a comment.