Die drie mans wat ernstig beseer is toe ‘n helikopter buite Bethulie neergestort het, het goed herstel en is die naweek uit die Mediclinic Bloemfontein ontslaan.
Die mans is per lugambulans na die Mediclinic Bloemfontein vervoer nadat die helikopter waarin hulle gevlieg het, op 31 Maart in ‘n ongeluk was.
Lucas Bezuidenhout, takbestuurder van ER24 in Bloemfontein, sê hulle is die Dinsdag om 08:30 in kennis gestel van dié voorval, op ‘n plaas.
Hy sê ER24 het ‘n ambulans gestuur, terwyl Rocket HEMS in Kimberley ook gereageer en twee lugambulanse na die toneel gestuur het. Dié twee helikopters het ‘n uur later naby die koppie waar die ongeluk gebeur het, geland. Twee van die pasiënte is in die lugambulanse gelaai en na Bloemfontein vervoer.
In Bloemfontein het die eerste helikopter om 11:38 geland, en kort daarna die tweede, op die sportveld van St. Andrew’s School.

Dié sportveld word as ‘n landingstrook ingerig wanneer pasiënte per helikopter na die Mediclinic in die stad vervoer word.
Ambulanse van ER24 was byderhand om die twee pasiënte op die sportveld na Mediclinic, oorkant die skool, in Kellnerstraat, te neem.
Een lugambulans het daarna vertrek om die derde pasiënt op die toneel in Bethulie te gaan haal en na Bloemfontein te bring.
Dr. Ilse Fourie, hoof van die Mediclinic Bloemfontein se noodgevalle-afdeling, sê dit is die eerste keer dat twee helikopters op een slag hier land met pasiënte.
“Die samewerking tussen ons noodsentrum, ER24 en Rocket HEMS was uitstaande,” sê sy.
“Die personeel van Rocket se deurlopende terugvoering uit die lug het beteken dat ons elke stap vooruit kon beplan – iets wat kritiek in tydsensitiewe noodgevalle is.”
Fourie is bygestaan deur drs. Esther Gunter en Karien le Roux, en die traumachirurg aan diens was dr. Mosa Khaeane.
Fourie sê in sulke situasies dra geen enkele span alleen die uitkoms nie.
“Dit is ‘n gesamentlike poging, met deurlopende kommunikasie van die toneel tot by die aankoms by die noodsentrum.
“Ek het in ‘n stadium in die traumakamer opgekyk en gesien hoe almal in perfekte harmonie saamwerk. Elkeen gefokus op sy of haar rol.
“Dit is daardie soort spanwerk wat werklik ‘n verskil maak in kritieke oomblikke,” sê sy.
Valencia Swarts, woordvoerder vir die Mediclinic Bloemfontein, sê die drie pasiënte is in die hospitaal behandel en al drie is oor die naweek ontslaan.







You must be logged in to post a comment.