Terwyl die owerhede niks doen om die uitdaging van haweloses in Bloemfontein se strate aan te spreek nie, beland al hoe meer mense op straat.
Dikwels word optrede op versoek van onder meer woonbuurtverenigings en ander forums deur die Mangaung-metro se wetstoepassingsafdeling onderneem om mense wat hulle in parke of woonbuurte tuismaak te verwyder. Dit is in ‘n poging om veiligheid te bevorder en omgewingsbesoedeling te beperk.
Dit los glad nie die probleem op nie, omdat dié mense eenvoudig na ander gebiede skuif.

Corize van Rensburg, wyksraadslid in die metro, het Maandag 30 Maart in die Mangaung-metro se spesiale raadsvergadering aangekondig dat die DA ‘n mosie gaan indien waarop gevra word dat ‘n omvattende beleid en wetgewing opgestel word om haweloosheid in die stad aan te spreek.
“Duisende kwesbare individue word gedwing om op straat te leef, dikwels in onveilige en onwaardige toestande soos onder brûe, in stormwater-stelsels en in openbare ruimtes. Hierdie werklikheid ondermyn nie net hul grondwetlike regte op waardigheid, veiligheid en voldoende behuising nie, maar raak ook die breër gemeenskap.”
Lees ook: Illegal occupants removed as conservancy is to be extended.
Van Rensburg sê die metro het geen formele beleid om haweloosheid aan te spreek nie. Die gebrek aan koördinering en beplanning het nie-regerings- en geloofsgebaseerde organisasies en die private sektor gelaat om die las met beperkte ondersteuning te dra.
Die DA se mosie vra dat ‘n benadering wat die hele gemeenskap insluit – plaaslike regering, provinsiale en nasionale departemente, asook burgerlike organisasies – saamstaan om volhoubare, praktiese oplossings te implementeer.
Ds. De la Harpe le Roux van Torings van Hoop sê daar is geen ware skuilings in Bloemfontein nie.
“Welsynsorganisasies soos Anchor of Hope doen reuse-werk om mense te help. Dit sluit Anchor se mansskuiling wat ook ‘n werkskeppingsprojek is in, asook Bloemshelter wat ‘n hawe vir vroue en kinders bied, maar hierdie plekke vervul ‘n baie spesifieke rol.
Dan is daar ook talle huise wat bejaardes wat Sassa-toelae ontvang, huisves, maar daar is ‘n baie groot behoefte.”
Hy sê tydens die Covid-pandemie is tydelike skuilings vir haweloses opgerig, maar uit daardie oefening het dit duidelik geblyk dat politieke wil en ‘n begroting te kort skiet, sowel as goeie bestuur om sulke skuilings tot stand te bring en volhoubaar te bedryf.
Hy sê daar is ook geen betroubare data oor hoeveel mense in die metro haweloos is nie.
“By die Torings se sopkombuis is daar ook talle stukwerkers wat vir dae op ‘n slag in die stad bly op soek na werk.”
Van die voorstelle wat Van Rensburg in die mosie het, sluit in die vestiging van veilige ruimtes en skuilings insluitend die gebruik van ongebruikte munisipale geboue; die verbetering van koördinering met die departemente maatskaplike ontwikkeling, binnelandse sake en die polisie; die opstel van ‘n sentrale databasis van beskikbare skuilings en dienste; die uitbreiding van toegang tot gesondheidsorg, dokumentasie, maatskaplike ondersteuning en rehabilitasieprogramme; asook inwerkingstelling van voorkomingsprogramme vir jongmense.







You must be logged in to post a comment.