BLOEMHOF – Stortreën, stormwind en modder was deel van vanjaar se The Courier Guy Bloemhofdam Bonanza. Maar getrou aan dié kompetisie wat vir die 25ste keer, van 29 April tot 3 Mei aangebied is, was groot visse en groot pryse ook deel van dié oewer- en boothengeltoernooi.
Hengelaars het van heinde en verre gekom, die kompetisie was straf en die verskil tussen wen en verloor was soms letterlik millimeters omdat die visse gemeet en nie geweeg word nie.
Die weersomstandighede het deelnemers se uithouvermoë beproef en met 100mm wat in die eerste dae van die bonanza uitgesak het, was groot dele van die oewers ontoeganklik.
Talle voertuie het in die modder vasgesit en moes met trekkers uitgesleep word. Die reën het egter in die laaste twee dae van die byeenkoms oorgetrek en is die sonskyn en warmer weer verwelkom, skryf Bernard Venter van die organiseerders Eco-Care Trust.
Boothengelaar Bennie Scorgie is die algehele wenner met die langste karp van 77cm, en dit het hom R100 000 van The Courier Guy in die sak gebring. Tweede in dié afdeling is Annelize Terry met ‘n karp van 72,5cm wat sy vanaf die Sandveld-oewer gevang het. Hiervoor het sy R20 000 kontant ontvang.
Groot pryse vir groot visse
Scorgie, wie al 40 jaar in Bloemhof woon en by die grondboontjiefabriek werk, vertel hy het van kleins saam met sy oupa en oom by Bloemhofdam visgevang, maar het nog nooit aan ‘n kompetisie deelgeneem nie.

Vanjaar het hy die kans gewaag en teen die Vrydagaand omstreeks 22:25 het hy ‘n “ligte stampie” aan sy een visstok gevoel. Met die vis uiteindelik uit die water en met die meetslag het hy en sy vriend André de Beer vir mekaar gesê dat dit die wenkarp is.
Verrassing aan die lyn ná chaos
Johan Labuschagne het die langste baber – ‘n knewel van 155cm – vanaf die Verlatenkraal-oewer gevang en R50 000 prysgeld van The Courier Guy ontvang. Vir hom was dit ook ‘n eerste keer om aan die Bloemhof Bonanza deel te neem, en hy en sy seun, Lappies, het na Bloemhof vertrek ongeag die weervoorspelling wat hewige reën en storms voorspel het.
Dié pa en seun het jare se hengelondervinding in verskillende dissiplines en vissoorte. Labuschagne neem ook gereeld deel aan georganiseerde hengel in klub-, provinsiale- en SA-kompetisies in Gauteng-Noord.
Donderdag se storm het veroorsaak dat baie tyd bestee is om net die kamp staande te hou.
“Vrydag was dit chaos met alle lyne verstrengel in die gras, en visstokke wat afgeval het van die staanders,” vertel hy.

Die baberstok het die hele nag deur die storm met die lyn in die water gelê. Toe Labuschagne ná die storm die stok se lyn begin inkatrol het hy besef dat daar ‘n byt was.
“Ek het aanhou katrol en die baber het maklik ingekom en eers by ongeveer 60m van die kant het die geveg begin.”
Eers ná ongeveer 45 minute is die massiewe baber uitgetrek en hy en sy seun was stom van verbasing.
LEES OOK: Katrolle én wenners gaan sing met 25ste Bloemhofdam Bonanza
In die gewilde spankompetisie het 76 spanne ingeskryf. Hier word die lengtes van die span, wat uit ‘n maksimum van vier hengelaars bestaan, se vier langste babers saamgetel. Die Esco-span het met 514,5cm gewen, die Dorsalfish-span was tweede met ‘n skrale verskil van 514,2cm, en derde was laasjaar se wenspan, Purple Power, met 501,4cm.
Talle ander pryse soos brandstof-koopbewyse en ‘n verskeidenheid gelukstrekkings was ook op die spel, asook pryse in ander afdelings.
Volgens die organiseerders was terugvoer oor die bonanza uiters positief en is deelnemers van mening dat die gure weersomstandighede ‘n goeie karakterbou-oefening was.
- Besoek bloemhofbonanza.com/results vir die volledige uitslae, en ook foranglers.co.za









You must be logged in to post a comment.