Beste produksies op Vrystaat Kunstefees met Vryskitters vereer

Feesdirekteur Michael Garbett op die Vryskitter-eerbewysgeleentheid.
Feesdirekteur Michael Garbett op die Vryskitter-eerbewysgeleentheid. FOTO: CG Productions

Beste produksies op Vrystaat Kunstefees met Vryskitters vereer


BLOEMFONTEIN – Die top-produksies by vanjaar se Vrystaat Kunstefees is Saterdag 11 Julie aangekondig.

Die aangrypende drama oor eg menslike verhoudings, Leefbaar, is as beste debuut op vanjaar se Vryskitters-eerbewysgeleentheid aangekondig.

Die wenners het aan die jaarlikse Vrystaat Kunstefees wat vanaf 7-11 Julie op die feesterrein van die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein plaasgevind het, deelgeneem.

Jefferson J. Dirks-Korkee in Leefbaar. FOTO: CG Productions
Jefferson J. Dirks-Korkee is vereer vir beste ondersteunende rol in Leefbaar. FOTO: CG Productions

Die eerbewys-geselligheid het in baie opsigte aan die dramaturg Nico Scheepers behoort. Sy twee produksies, Leefbaar en Waterbrief, het saam altesaam agt Vryskitter-eerbewyse ingepalm.

Scheepers is boonop met die prys vir beste regisseur virLeefbaar bekroon, terwyl sy rillerfilm Hen, wat verlede jaar uitgereik is, as beste vollengte film aangewys is.

Anke Meyer-Auld, het die plaaslike kunstenaars van Bloemfontein se naam hoog gehou toe haar produksie, Lillie en die Liggie-kompas as beste produksie vir jong gehore gekroon is. Marlou Strydom, ook van die Rosestad, is as beste tegnikus aangewys.

’n Verdere Vrystaatse swier is aan die aand verleen met die unieke Vryskitters-pryse in die vorm van kunswerke. Die kunswerke is vanjaar deur die Bloemfontein aktrise en grafiese kunstenaar Jana du Plessis, in haar Poppiefield-handelsmerk, gemaak.

Met Leefbaar bewys Scheepers weereens waarom hy een van Suid-Afrika se mees gerekende dramaturge is. Die dialoog is eerlik en deurdrenk van menslikheid. Hy skryf karakters van vlees en bloed, met al hulle foute en broosheid fyn verweef.

Van links is Anke Meyer-Auld (Lillie en die Liggie-kompas) en Katelyn Forbay (regisseur van Actually).
Van links is Anke Meyer-Auld (Lillie en die Liggie-kompas) en Katelyn Forbay (regisseur van Actually). FOTO: CG Productions



Die sterbelaaide rolverdeling met Wynand Kotze, Stian Bam, Nicole Holm en Jefferson J. Dirks-Korkee lewer deurgaans vertolkings wat geloofwaardig en emosioneel eerlik is.

Charles Smith, van Netwerk 24, skryf in sy weeklikse rubriek: “Lanklaas was daar teater wat menswees só oopgevlek het. Dit is Afrikaanse teater op sy beste wat die kwessies waarmee elke Afrikaanse gesin worstel, met fyn spel, woorde en stiltes, blootlê en ondersoek.”

Lees ook: Fiëstas uitgebrei: Hier is die skitterende benoemdes vir 2026.

Michael Garbett, feesdirekteur van die Vrystaat Kunstefees, sê vanjaar se Vryskitter-wenners verteenwoordig die hart en siel van die fees. Dit is kreatiwiteit, uitnemendheid en dapper storievertelling. Hier kan kunstenaars waag, eksperimenteer en nuwe stories vertel sonder om dit veilig te speel.

“Kunstenaars het grense verskuif, gehore diep geraak en ’n kulturele erfenis versterk waarop ons met reg trots kan wees.”

Hy sê hierdie was een van die suksesvolste Vrystaat Kunstefeeste nóg en ’n viering van 26 jaar se kuns, gemeenskap en groei. “Dit bly oop vir nuwe stem, jong kunstenaars en uitdagende idees.”
Hy sê ’n fees is ’n vreemde wonderlike ding. “Dit is ’n plek waar stories kom asem skep. Stories in Afrikaans, Engels en Sotho. Stories uit die Vrystaat en ver hiervandaan.”


“Dankie aan elke kunstenaar, elke feesganger, elke borg, medewerker en ondersteuner van die kunste uit my hart bedank. Julle is die rede waarom hierdie fees nie net ’n datum op paper bly nie. Julle dra by tot ’n erfenis wat deel is van ons grond, ons geheue en ons hartklop.”

Die volledige lys Vryskitter-wenners is:

  • Beste produksie op die hooffees – Leefbaar;
  • Beste regisseur: Nico Scheepers, Leefbaar;
  • Beste vertolking: (manlik) – Wynand Kotze, Leefbaar;
  • Beste vertolking: (vroulik) – Minke Marais, Waterbrief;
  • Beste ondersteunende vertolking: (manlik) – Jefferson Dirks Korkee, Leefbaar;
  • Beste ondersteunende vertolking: (vroulik) – Nicole Holm, Leefbaar;
  • Beste tegniese aspekte: Waterbrief;
  • Beste musikale komposisie: Noorderlig;
  • Beste opkomende kunstenaar: Katelyn Forbay, regisseur Actually;
  • Beste produksie vir jong gehore: Lillie en die Liggie-kompas;
  • Beste produksie Vrynge: Sluk;
  • Beste grensverskuiwende werk: Dosomethin’ Abraham Mennen;
  • Beste visuele kuns-aanbieding: Dosomethin’ Abraham Mennen;
  • Beste Suid-Afrikaanse vollengte film: Hen;
  • Beste bemarking: Ouma en die Ou Koeie.
  • Beste Suid-Afrikaanse kortfilm: Amazeze;
  • Klapklous-toekenning vir teater (gehoorgunsteling): Sluk;
  • Klapkous-toekenning Vlieks (gehoorgunsteling): Tussen Hemel en Aarde;
  • Beste tegnikus: Marlou Strydom
  • Beste gemeenskapsbetrokkenheid: VRYWEES
  • Beste boekverkoper op die Literatuurfees: Rebekka op Kameeldoornplaas deur Irma Joubert.








You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article