Vrystaat Kunstefees nie net oor bekende name, maar ook stiller juwele

A Girl called Owl op die Vrystaat Kunstefees.
A Girl called Owl op die Vrystaat Kunstefees.

Vrystaat Kunstefees nie net oor bekende name, maar ook stiller juwele


BLOEMFONTEIN – Die winterkoue in Bloemfontein gaan hierdie week verdryf word met heerlike saamkuiers en kuns en teater wat almal by die Vrystaat Kunstefees gaan meevoer.

Met enkele vertonings wat Maandag 6 Julie reeds plaasvind, begin die bedrywighede van die fees Dinsdag 7 Julie in alle erns op die hoofkampus van die Universiteit van die Vrystaat.

Die ware rykdom van ’n kunstefees lê dikwels in die verrassings wat wag waar jy dit die minste verwag.

Vanjaar lê van die sterkste oomblikke juis in die stiller hoeke van die program: Dit is die produksies wat nie noodwendig met geraas aankom nie, maar lank ná die ligte doof, bly leef.

LEES OOK: Skitterende produksies bekroon op vanjaar se Vrystaat Kunstefees

Hoort, met Stephanie Baartman.
Hoort, met Stephanie Baartman, is ook by die fees te sien. Foto: Verskaf

Hier is ‘n paar van dié vertonings waarna feesgangers kan uitsien.

‘Bitterkomix’: Oorsprong, inspirasie en metodiek

Hierdie is ’n Intieme gesprek met Anton Kannemeyer en Conrad Botes oor die ontstaan en ontwikkeling van Bitterkomix. Die skerp publikasie wat die twee as studente begin het, om die gevestigde orde te skud en die lewens van hul medestudente te verfris, en word steeds gereeld gepubliseer en persoonlik versprei. Die uitgawes het oor die jare tot iets van ’n nasionale instelling gegroei. Die fokus val op die kreatiewe proses agter hierdie ikoniese strokies, van konsep tot uitvoering, en hoe dit steeds gevestigde kulturele aannames uitdaag.

‘Raunchy Renditions’

Raunchy Renditions is Suid-Afrika se eerste seks-positiewe storievertelplatform, geïnspireer deur die internasionale platforms vir regstreekse storievertelling, The Moth en Bawdy Storytelling. Vyf storievertellers deel eerlike, humoristiese en ondeunde seksuele ervarings in ’n bemagtigende ruimte wat skaamte rondom seksualiteit uitdaag. Hierdie is uiters smaakvol gedoen en maak ’n baie opwindende konsep.

‘Om te val’

Om te val volg Miriam ná ’n byna-verdrinking in 1996 en haar lewe met skynkoma-sindroom. Die stuk beweeg tussen stilte en ’n ryk innerlike wêreld en ondersoek broosheid en oorlewing.

Om te Val met Tanja Franzsen.
Om te Val met Tanja Franzsen. Foto: Verskaf

‘Hoort’

Hoort is ’n semi-outobiografiese kabaret wat humor, musiek en identiteit verweef. Stephanie, dogter van twee pastore, ondersoek behoort en selfaanvaarding in ’n komplekse wêreld. Stephanie Baartman is die kunstenaar en Elzabé Zietsman die regisseur. Coenraad Rall is op die klavier.

‘A Girl Called Owl’

A Girl Called Owl vertel die verhaal van Olivia en haar vriendskap met Kay (“Uil”) in ’n stil Overberg-dorpie. Die produksie ondersoek grootword, kreatiwiteit en misverstaan liefde.

Vryfees Vasvra-Aand

Kom geniet ’n lekker, interaktiewe vasvra-aand waar slimkoppe, die wat raai en die wat altyd alles weet, saamkom vir ’n jolige toets van kennis, met vrae oor alles van aktuele sake tot literatuur en die fees self. Verwag lag, verrassing en ’n bietjie kompetisie-nerwe: alles in goeie gees.

“Dis dikwels die stiller produksies wat die langste by mense bly,” sê Vrystaat Kunstefees-direkteur Michael Garbett. “ ’n Fees gaan nie net oor groot name en bekende titels nie, maar oor ontdekking.”

Volgens hom skep hierdie werke ruimte vir vars idees en onverwagte ervarings en ontdekking. “Dis waar kunstenaars waag, eksperimenteer en nuwe stories vertel sonder om veilig te speel. En dit is presies wat ’n fees opwindend en relevant hou.”

Besoek die webwerf vrystaatkunstefees.co.za vir meer inligting oor al die produksies.

LEES OOK: Fiëstas uitgebrei: Hier is die skitterende benoemdes vir 2026

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article