Twee misdaadvoorvalle by die Rusthof-behuisingsontwikkelingsprojek se bouperseel het tot ‘n noodgemeenskapsvergadering gelei.
Die projek behels die ontwikkeling van 363 Breaking New Ground-wooneenhede, wat na verwagting teen 2028 vir begunstigdes van wyke 85, 86 en 100 voltooi sal word. Die ontwikkeling is vroeër vanjaar tydens die verkiesing van die projekbetrokkenheidkomitee (PEC) aangekondig (“Housing committee elected,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 15 April).

Die vergadering is op Vrydag 11 September beroep nadat houtpale, wat vir die omheining van die terrein geplant is, op Donderdag 10 September gesteel is.
wagte met vuurwapen gedreig
Later dieselfde dag is twee veiligheidswagte, wat ontplooi is om die terrein te beveilig, glo met ‘n vuurwapen gedreig.
Sowat 120 gemeenskapslede het die vergadering bygewoon.
Lisa Visser, die sekretaris van die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), Strand-polisie, verteenwoordigers van die veiligheidsmaatskappy en die gemeenskapsleier Brent Louis het die vergadering toegespreek.
Die projek se gemeenskapskakelbeampte, Liezel Williams, wat einde Julie aangestel is nadat sy uit die PEC bedank het, het ook die skare toegespreek.
Sy het aan DistriksPos & Helderberg Gazette verduidelik wat sy met die mense teenwoordig by die vergadering gedeel het: “Jou ma moet ook nog ‘n huis kry. Dis ‘n gemeenskapsprojek en as hulle steel, dan steel hulle van die eie mense af.”
Sy het mense gewaarsku om nie gesteelde goedere te koop nie: “Dan besteel julle net iemand anders!”
Williams verduidelik omdat die nuwe huise die hele gemeenskap sal bevoordeel, moet almal daarna omsien.
“Ons wil aan die einde van die projek sien dat al 363 gesinne in hul huise intrek,” verduidelik Williams.
Nuwe datum, begroting
Carl Pophaim, die burgemeesterskomitee-lid vir menslike nedersettings, het ‘n opdatering oor die projek verskaf.
Die geraamde begroting was R84 miljoen in April toe die projek in die tenderfase vir die grondwerke was, maar is nou ongeveer R132 miljoen, wat siviele werke en boustrukture insluit.
Dit volg nadat Asla op ‘n 24-maande-kontrak as die kontrakteur aangestel is en die konstruksieterrein op Vrydag 12 Junie oorhandig is.
Water, elektrisiteit en rioolstelsels word tans op die eerste terrein aangebring, waarna die werk na die ander twee terreine sal uitbrei.
Bouwerk aan huise sal na verwagting in April volgende jaar begin.
“Die projek is op skedule en sal in Mei 2028 voltooi wees,” het Pophaim gesê.
Hy het bevestig dat die Stad Kaapstad bewus is van die voorvalle van diefstal nadat die kontrakteur dit by wetstoepassingsowerhede aangemeld het.
“Asla is tans in besit van ‘n voorvalverwysingsnommer,” het Pophaim gesê. “Die voorvalle sal mootnlik nie tot vertragings lei nie, maar die Stad voer aktiewe dag- en nagpatrollies uit om veilig te versterk.”
Pophaim het plaaslike inwoners aangemoedig om aansoek te doen vir werksgeleenthede by die projek deur op die Stad se databasis vir werksoekers te registreer.





You must be logged in to post a comment.