‘Babasmous’ sterf voor uitspraak in bedrogsaak gelewer kon word

Letitia van den Berg
Letitia van den Berg FOTO: Verskaf

‘Babasmous’ sterf voor uitspraak in bedrogsaak gelewer kon word


PRETORIA – Die vrou wat haarself voorgehou het as ‘n maatskaplike werker wat in aannemings spesialiseer en só talle kinderlose paartjies bedrieg het, is die aand voor die hof uitspraak in dié bedrogsake teen haar sou lewer, oorlede.

Letitia van den Berg is Sondagaand 11 Oktober oorlede en die hof sou Maandag 12 Oktober uitspraak gelewer het. Haar doodsertifikaat is Vrydagoggend 16 Oktober by die Pretoriase Hooggeregshof ingedien. Die saak is van die rol geskrap sonder dat uitspraak gelewer is.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het verskeie van haar slagoffers verteenwoordig en het ’n belangrike rol gespeel om te verseker dat die saak behoorlik ondersoek word en dat Van den Berg uiteindelik vervolg kon word. Die privaatvervolgingseenheid het Sonia Leithgöb, Kimberley Kruger, Erica Franks, Shannon Staniforth en Sandra Pretorius verteenwoordig.

Letitia van den Berg se bedrogsaak.
Adv. Phyllis Vorster, Sandra Pretorius, adv. Gerrie Nel en Shannon Staniforth praat oor die saak wat van die rol geskrap is ná die hof ingelig is dat die beskuldigde Letitia van den Berg gesterf het. FOTO: Verskaf

Vra geld vir ‘aanneemkinders’ wat nie bestaan nie

Van den Berg het potensiële aanneemouers vir verskeie dienste in die aannemingsproses geld gevra. Dít terwyl daar in werklikheid geen kind was om aan te neem nie, of ’n kind is aan hoopvolle ouers aangebied ongeag daarvan dat die biologiese ma nie tot ’n aanneming ingestem het nie. In sommige gevalle het Van den Berg sonarskanderings van die beloofde baba aan die paartjies gestuur en geld vir die biologiese ma se hospitaalrekening gevra. Dié biologiese ma het nie bestaan nie, en Van den Berg sou die paartjies later laat weet dat die biologiese ma ’n miskraam gehad het of gesterf het. Haar oortredings strek so ver terug as 2014.

Sommige van die hoopvolle paartjies het babakamers gereed gekry, en speelgoed, bottels en stootwaentjies vir die baba gekoop wat nooit sou opdaag nie. Dit het die paartjies verpletterd gelaat.

Emosionele verwoesting steeds daar

Pretorius, een van Van den Berg se slagoffers, meen dat hoewel Van den Berg dood is, is die emosionele verwoesting steeds daar. Van den Berg se gevoellose en wrede dade moet nie vergeet word nie. “Ek dink ons moet steeds haar slagoffers en die pyn wat sy aan hulle veroorsaak het onthou. Vandag was ’n baie emosionele en onverwagte wending in hierdie saak. Ons het so lank gewag vir geregtigheid en dit is nou van ons af weggevat. Ek het nodig gehad om die woord ‘skuldig’ te hoor. Ek het vrede nodig gehad. Ek het nodig gehad om te hoor dat sy gevonnis sal word vir wat sy aan ons gedoen het,” sê Pretorius.

Sy het AfriForum se privaatvervolgingseenheid bedank dat hulle onverpoosd deur die proses ondersteun is. “Nie net deur hierdie saak nie, maar ook emosioneel. Ons het AfriForum genader want ons het nie genoeg ondersteuning van die aanklaer en ondersoekspan ontvang nie. Ons het ekstra hulp nodig gehad en in daardie opsig was AfriForum uitstekend.”

‘Wag vier en ‘n half jaar vir afsluiting’

Staniforth, nóg ’n slagoffer, sê dat om die regter se uitspraak en bevindinge teen Van den Berg te hoor ’n belangrike deel sou wees in die proses om afsluiting te kry ná hierdie verwoestende hoofstuk in haar familie se lewe. “Dit laat ons egter nou met geen geregtigheid en geen antwoorde. Ons gaan nou al vir vier en ’n half jaar hierdeur. Ons het ’n babakamer gereed gekry vir kindertjies wat nooit huis toe gekom het nie. Ons het gerou oor die dood van babas wat kwansuis gesterf het. Ons moes ’n regstryd stry en het die welsyn in ons huis gehad. Dit was onwerklik dat ons moes veg vir ons dogter wie se foto’s sy gebruik het om ander families te swendel en nou kom hierdie vrou net weg met dit. Wraak en geregtigheid is nie vir my dieselfde ding nie. Ons het vier en ’n half jaar gewag vir afsluiting,” sê Staniforth.

‘Stories is gehoor’

Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê die staat se versuim om met misdaadslagoffers te kommunikeer skep sekondêre trauma wanneer hulle nodig het om die proses te verstaan en wanneer hulle uiteindelik geregtigheid kry. “AfriForum se privaatvervolgingseenheid het nie net verseker dat hierdie saak behoorlik ondersoek word en dat vervolging uiteindelik plaasgevind het nie, ons het ook hierdie vroue deur die hofsaak ondersteun.

“Dit is betreurenswaardig dat die beskuldigde gesterf het want dit het hierdie slagoffers van die geleentheid ontneem om te hoor dat ’n hof hul swaarkry geldig verklaar en bevestig dat Van den Berg se wrede en berekende optrede nie ongestraf sal gaan nie. Ten minste het hulle die geleentheid gehad om hul stories aan ’n hof te vertel en dit is gehoor,” sluit Bateman af.

LEES OOK: Zastron baby safe after being left at household doorstep

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article