Avonturiers trap 2 714 km met hul fietse vanuit Rundu tot in Worcester

Hubert Titus (links), Leon Hougaard en Lucas Mienie minute nadat hulle in Worcester aangekom het. Saam met hulle is hul eggenote Shaamelah, Marietjie en Elsabe

Avonturiers trap 2 714 km met hul fietse vanuit Rundu tot in Worcester

Hubert Titus (links), Leon Hougaard en Lucas Mienie minute nadat hulle in Worcester aangekom het. Saam met hulle is hul eggenote Shaamelah, Marietjie en Elsabe

“Die fietstoer was lekker, maar toe ons die Namibiese grens oorsteek, toe sê ek vir myself ‘ek het nou genoeg fiets gery, ek wil nou huis toe’’. Dis lekker om weer in my eie bed te slaap. Hy slaap mos maar die lekkerste.”

So sê ’n uitgeruste Leon Hougaard (68), ’n afgetrede motorwerktuigkundige, nadat hy en sy twee vriende en fietsrymaats, die afgetrede skoolhoof Hubert Titus (61) en afgetrede onderwyser, Lucas Mienie (69) – almal van Worcester – op Dinsdag (4 Augustus) onder luide applous hartlik deur familie, vriende en ander belangstellendes langs die N1 by die Rouxweg-kruising in Worcester terug in die dorp verwelkom is.

Die drie fietsryers het in snerpende koue altesame 2 714 km op hul fietse afgelê nadat hulle meer as ’n maand gelede uit Rundu in die noorde van Namibië vertrek en die pad terug Worcester toe aangedurf het.

Die doel van die “Caprivi to Cape”- fietstoer – soos hulle dit self gedoop het – was om geld in te samel vir die bevordering van evangelisasiewerk en om Titus se kosprojek verder uit te brei.

Hulle het altesame R109 000 vir hierdie doel ingesamel. Hul aanvanklike teiken was R20 000 tot R30 000.   

Met NovaNews se besoek aan die drie mans by Titus se woning in Somersetpark, Worcester, die afgelope week, kon die drie net nie uitgepraat raak oor onder meer die warm ontvangs wat hulle van inwoners van die verskillende dorpe waar hulle aangedoen het, ontvang het nie.

Titus sê: “Toe my broer, Ruben, ons einde Junie met sy bakkie tot in Rundu geneem het, het ons gebid dat die Here asseblief mense se harte gereed moet maak om ons daar te ontvang. Dit was inderdaad so.

“In die Kalahari het mense hul huise vir ons oopgemaak. In Fraserburg het mense ons langs die pad ingewag om vir ons slaapplek aan te bied. Dit sê vir my daar is meer goeie mense in die wêreld. Die feit dat ons nog op ons gemeenskappe kan staatmaak, gee my baie hoop.”

Minnie sê sy hart het vermurwe toe ’n ouerige tannie in Merrydale – wat ook van hul storie gehoor het – vir hulle R20 gee het. “Dit het my regtig klein gemaak dat sy haar laastes kom gee. Sy wou ook haar deel vir die Here doen.”  

Titus se broer, Ruben, wat hom, Hougaard en Mienie vir die duur van die fietstoer op die landpad ondersteun het, sê: “There are more good people in this world, than not so good people. Die welwillendheid en opehartigheid van mense was net wonderbaarlik.”    

Wat die uitdagings op die pad betref, sê Titus, dat die paaie baie meer uitdagend was as wat hulle aanvanklik gereken het. “Die Kalahari-duine het ons behoorlik pak gegee in die omgewing van Leonardville en Gochas.”

Volgens Titus het hy boonop sy skouer, heup en knie beseer toe twee keer van sy fiets geval en in ’n stadium lights out was. Hy vertel dat hy in ’n stadium net sy regtervoet kon gebruk om die fiets-pedaal te trap omdat hy die sening aan sy linkervoet beseer het.

“So mens het maar die punches gevat, maar jy moet opstaan en aangaan. Daar is nie sprake van opgee nie.”

Mienie sê: “Kyk ons het mos maar uitdagings met sekere spiere, daarom moet die voorbereiding goed gewees. As dit nie is nie, kry mens maar partykeer bietjie swaar. O ja, ek het saans maar gesukkel om die voete warm te kry.”

Hougaard vertel verder dat die raamwerk van sy voorwiel in die omgewing van Prieska gekraak het. Hy sê hy het dit gou-gou met ’n paar kabelbinders uitsorteer en daarmee verder gery tot in Worcester.

Volgens die drie manne het hulle soggens klokslag 09:00 met hul fietse in die pad geval. Teen 17:00 het hulle dan sommer vir hulle ’n plekkie – soms onder ’n boom langs die pad – gekry om te oornag.

Hougaard sê die fietstoer het hom geleer om meer geduldig te wees. “Mens wil haastig raak en gou by die huis uitkom. Ek het geleer van uithou en aanhou.”

Minnie sê hy het die natuurskoon van die Kalahari baie geniet. “Jy gaan nie gewoonlik so stadig daardeur nie. Nou het ons stadig daardeur gegaan, so mens kon alles inneem.”

Voordat NovaNews die manne gegroet het, het hulle so bietjie gespog oor die gewig wat hulle tydens die fietstoer verloor het. Hougaard sê hy het 8 kg verloor, terwyl Titus op sy beurt 5 kg afgeskud het.

Die “Cape to Caprivi”-fietstoer was beslis nie hierdie drie manne se laaste avontuur nie. Hulle praat alreeds van ’n fietstoer van Marocco tot in die Kaap.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article