KUILSRIVIER – Die lede mag dalk almal al meer as 50 jaar op die “klok” hê, maar hulle het nog hope woema in die tenk.
Vier dae elke week kom die lede van die Sarepta Aerobics Club by die saal in die buurt se sportkompleks bymekaar om die dag op ‘n aktiewe noot te begin — Maandae is dit aërobiese oefeninge, Dinsdae pilates, Woensdae word ge-zumba en Donderdae is lyndansdag.
Die klub is as ‘n seniorsklub begin, maar daar’s so baie skop, die ‘senior’ word sommer weggelaat.
Verlede Woensdag is daar selfs ‘n bietjie feesgevier.
Lauretta Anthony, komiteelid sê die klub hou ‘n jaarlikse viering, genaamd “Everybodies’ birthday” om sommer al die lede se verjaarsdae te vier.
Die dag was wel ekstra spesiaal omdat die klub se oudste lid, Richard Davis, Woensdag (29 Oktober) 90 geword het.

‘Ou danser’
Dit blyk sommer gou uit die gesels met Davis dat hierdie ‘n “90-nie-uit-nie” is.
Davis vertel hy is die afgelope drie jaar lid van die klub. En ja, jy sal hom elke oggend van Maandag tot Donderdag van 09:00 tot 10:00 by die saal aantref, besig met die dag se oefensessie.
Hy is ‘n “ou danser” wat ken van “two-step en wals, al die outydse danse” en dus geniet hy die “jazz-oggende” waar daar gedans word die meeste.
“Ons het ‘n goeie instrukteur wat ‘ballroom’ doen, Harold (Hartzenberg).”
Vir elke oggend se sessie neem ‘n ander instrukteur leiding. Dit bied ook afwisseling. Die lede, nou al meer as 150, is meestal vroue — “getroud en weduwees. Dit is ‘n baie ‘jolly’ groep,” sê Davis.
Raad
Hy is reg met raad en aanmoediging vir jonger mense en veral diegene wat so pas afgetree het.
“Raak aktief. Kry ‘n stokperdtjie — iets wat jy geniet, wat dit ook al is. ‘n Mens moet aan die gang bly. Hou jou brein besig en jou liggaam aan die gang — dit is wat ‘n mens nodig het.”
As jy dit nie doen nie, wees gewaarsku: “Mens verroes nogal gou.”
Die waarde daarvan om lid van ‘n klub te wees, som Davis so op: “Jy bluf jouself as jy sê jy luister op die radio na oefenprogramme. Dan dink jy, ek gaan daai doen, maar jy kom nooit op jou eie sover om dit te doen nie … maar as jy aan ‘n klub behoort, dan is daar soort van ‘n verpligting op jou; jy moet dit doen,” sê hy.
Is maar so met ‘n mens, as daar nie ‘n verpligting op jou is nie, dan laat jy maar alles slaplê.
Samesyn
Net so belangrik soos ‘n gesonde liggaam is ‘n gesonde gees en samesyn.
“Jy maak baie goeie kontakte. Daar is altyd ‘n paar wat jou gaan mis as jy nie opdaag nie. Môre wil hulle weet: ‘waar was jy? Is iets verkeerd?’ ” sê Davis.
“Ons het ook gereeld vergaderings waar jy kans kry om jou probleme te uiter.”
Die klub reêl ook uitstappies.
“Aan die einde van die jaar het ons ‘n groot afsluitingsgeselligheid. Dit is gewoonlik by die see en almal is daar; niemand gaan dit mis nie. Jy kan dan maar jou hare laat sak,” skerts Davis.
Ondersteuning
Aan die ernstiger kant voeg hy by: “Dit is ook ‘n ondersteuningsgroep as jy die dag siek is of nie lekker voel nie, dan is almal daar om jou te ondersteun.”
Soms vat dit net ‘n paar woorde om ‘n ander se gemoed op te helder, laat blyk Davis.
Dit is inderdaad soos een uitgebreide familie, gee hy toe.
Volgens Davis het hy in die diplomatieke diens onder die destydse buitelandse minister Pik Botha gedien. “Die diplomatieke ondervinding was baie interessant. Toe ek in Londen gewerk het, is ek darem aan die oorlede koningin voorgestel … en Prins Phillip.”
By ‘n “garden party” het hy vir Lady Di ontmoet. “‘n Pragtige vrou, magtig weet jy, sy was nou mooi!”
“Ja, ek het baie interessante mense ontmoet. Ek was in Londen toe Margaret Thatcher eerste minister was; dit was ‘n baie interessante tyd.”
Davis sê hy het in 1994 afgetree. “Die dag voor die nuwe regering intree, toe tree ek uit. En ek is nie spyt nie,” lag hy.







You must be logged in to post a comment.