PRETORIA – Die 13de Afri-Duetfees wat eersdaags in die Staatsteater plaasvind, is die tweede uitvoering as deel van die samewerkingsooreenkoms tussen die Suid-Afrikaanse Staatsteater en die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK).
Met hierdie vennootskap wat in Junie gesluit is, word nuwe geleenthede vir Afrikaanse kunstenaars en gehore tot produksies by een van Suid-Afrika se vooraanstaande uitvoerende kunste-lokale geskep.
Vanjaar se Afri-Duetfees bring kunstenaars vir ‘n produksie byeen waarin stemme, persoonlikhede en musiekstyle mekaar aanvul en die gehoor kan verwag om die krag, talent en veelsydigheid van Afrikaanse musiek op een verhoog te beleef.

Duetpare Jannie Moolman en Loriska Schmidt; Hendri Myburgh en Nadia Beukes; Douwe Bijkersma en Lanie Coetzer; asook Louis Loock (van Romanz-faam) en die internasionaal bekende sopraan Amira Willighagen tree op. Die begeleidingsorkes – bestaande uit klavier, orrel, viool, tjello, kitaar, tromme, perkussie en trompet – word deur Liesl du Plessis gelei.
By die geleentheid word die FAK se lewens-eerbewys vir ’n besondere bydrae tot Afrikaanse musiek aan Jannie Moolman oorhandig. Verskeie van sy gewildste liedjies sal deur die duetpare vertolk word.
LEES OOK: FAK en Staatsteater sluit historiese ooreenkoms vir Afrikaanse teater
“Die Suid-Afrikaanse Staatsteater is trots daarop om sy samewerkingsooreenkoms met die FAK voort te sit en ’n platform te bied waar uiteenlopende Suid-Afrikaanse kulturele en artistieke uitdrukkings gevier kan word,” sê verteenwoordigers van die Staatsteater.
Dié fees word deur die Suid-Afrikaanse Staatsteater en FAK, in samewerking met Dinamika Finansiële Dienste en die Gereformeerde Kerk Magalieskruin op Saterdag 17 Oktober om 14:00 in die Opera van die Staatsteater in Pretoria aangebied.
- Bespreek kaartjies via Webtickets






You must be logged in to post a comment.