Binne een week is minstens drie gesinne in Bonniemile, Raithby en Noord-Agter-Paarl die slagoffers van gewapende huis rooftogte deur gemaskerde bendes.
Die Boland-streek word geteister deur ‘n kommerwekkende reeks gekoördineerde huis rooftogte. Binne minder as ‘n week is minstens drie gesinne in verskillende gebiede van Stellenbosch en Paarl deur gewapende, gemaskerde mans oorval. Almal is vasgebind, almal is beroof, en almal is met groot vrees agtergelaat.
Gemeenskapslede stel al hoe meer vrae oor die veiligheid van hulle eie huise
Die mees onlangse voorval het Woensdagaand, 3 Junie, omstreeks 20:50 plaasgevind toe twee slagoffers in hul woning op Bonniemilerylaan, Stellenbosch, deur gemaskerde mans oorval is. Die rowers, wat swart balaclavas gedra het en onder andere met pangas gewapen was, het die slagoffers vasgebind en kussings oor hulle koppe gehou terwyl hulle die huis van alles gestroop het.
Die dogter van die slagoffers het haar ouers se belewenis op sosiale media gedeel. “My ma sê sy het net gebid vir haar lewe. Sy is verskriklik gerattle. Dit lyk of ‘n tornado deur die huis gegaan het,” skryf sy. “Dit is so upsetting dat mens so moet leef en bid vir jou lewe in jou eie huis.”
Haar ouers is daarna in ‘n kamer toegesluit terwyl die rowers soos blits verdwyn het, ten spyte van die groot hoeveelheid besittings wat hulle gesteel het. Die dogter vermoed dat dit die werk van ‘n georganiseerde sindikaat is wat die slagoffers vooraf dopgehou het.
Wes-Kaapse polisiewoordvoerder Thembakazi Mpendukana het die voorval bevestig: “Stellenbosch-polisie het ‘n huisroofaak geopen na aanleiding van dié ‘n voorval. Vier onbekende manlike verdagtes het die perseel binnegegaan, die hande van die twee slagoffers vasgebind, hulle persoonlike besittings gesteel en gevlug. Geen beserings is aangemeld nie. Die saak is word ondersoek en geen arrestasie is nog gemaak nie.”
Raithby: Gesin oorval tydens braai op Rust en Vrede-plaas
Op Vrydagaand, 29 Mei, is ‘n egpaar op die Rust en Vrede-plaas langs die R44 in Raithby, Stellenbosch, deur vier gemaskerde mans oorval terwyl hulle gebraai het. Die mans, gewapen met ‘n koevoet, ‘n tuisgemaakte geweer, nog ‘n vuurwapen en pepersproei, het die gesin in die huis ingedwing. Die man is vasgebind terwyl die rowers kontant, juweliersware, tablette, drie selfone en voertuigsleutels – insluitend die van ‘n Volkswagen Amarok – gesteel het.
Stellenbosch-polisiewoordvoerder kapt. Nathalie Martin het bevestig dat ‘n huisroofondersoek aan die gang is. “Geen verdagtes is tot dusver in hegtenis geneem nie,” sê sy. Die polisie het ook gewaarsku teen die verspreiding van onbevestigde inligting op sosiale media en doen ‘n beroep op inwoners om verdagte aktiwiteite deur amptelike polisiekanale aan te meld.
LEES OOK: Couple robbed during braai op Stellenbosch farm
Noord-Agter-Paarl: Gesin van drie vasgebind op plaas
Op Dinsdag, 2 Junie, omstreeks 19:15, is ‘n gesin op ‘n plaas in Noord-Agter-Paarl naby die Ridgeback-wynplaas deur vyf gewapende mans oorval.Die verdagtes was na bewering gewapen met minstens drie handgewere en twee messe.
Hulle het die gesin vasgehou en die huis deurgesoek. Vier selfone, vyf skootrekenaars, juweliersware – insluitend drie trouringe – en voertuigsleutels is gesteel.
Paarl-polisie het bevestig dat ‘n huisroofondersoek aan die gang is. “Vyf onbekende verdagtes het die privaat eiendom binnegegaan en die inwoners se persoonlike besittings gesteel. Die ondersoek is aan die gang en geen arrestasie is gemaak nie.”
LEES OOK: Gesin vasgebind tydens huisroof op plaas in Noord-Agter-Paarl
Patroon dui op georganiseerde sindikaat
Die ooreenkomste tussen die drie voorvalle is treffend: in alle gevalle het die verdagtes swart balaclavas gedra, was hulle gewapen met soortgelyke wapens, het hulle slagoffers vasgebind en het hulle vinnig en doelgerig na die rooftogte gevlug. Daar word nou vermoed dat dit die werk van een of meer georganiseerde sindikaatgroepe is wat plase en woongebiede in die Boland teiken.
Mpendukana het aan EikestadNuus bevestig dat alle aangemelde voorvalle deeglik ondersoek en gemonitor word. Die polisie doen ‘n dringende beroep op inwoners om enige verdagte aktiwiteite onmiddellik by die plaaslike polisiekantoor of via die polisie se amptelike kanale te rapporteer.
Gemeenskap in die greep van vrees
Die voorvalle het ‘n golf van onrus in plaaslike gemeenskapsgroepe op sosiale media ontketen. Inwoners deel hul bekommernisse oor die toenemende braafheid van misdadigers en vra vir meer sigbare polisiëring in plattelandse en voorstedelike gebiede. Die dogter van die Bonniemile-slagoffers stel dit bondig: “Hoe de hel kom mense wat soveel goed wegdra, so vinnig weg?”
EikestadNuus sal dié ontwikkelinge monitor en lesers op hoogte hou van enige arrestasies of deurbrake in die ondersoeke. Lesers met inligting wat die polisie kan help, word versoek om dit aan te meld. Lesers kan dit anoniem doen.



