BLOEMFONTEIN – Die klein woelwater Ernst Groenewald (5) herstel nou in die Mediclinic Bloemfontein nadat sy regterbeen in ‘n fratsongeluk in ‘n plaaswerktuig op ‘n plaas naby Hertzogville beland het.
Ernst was op Woensdag 27 Mei saam met sy pa, Christo Groenewald, op hul plaas tussen Hertzogville en Dealesville waar werkers soja uit ‘n tapkar gelaai het. Sy pa vertel Ernst het gegly en in die awegaar beland wat tot die traumatiese amputasie van sy regterbeen gelei het. Christo en werkers het onmiddellik probeer om hom te help en hulle het ‘n gordel om die been gebind om die bloeding te keer.

Christo het sy vrou, Liza, gebel en sy het die ambulans ontbied. Hulle het met Ernst in die rigting van Bloemfontein begin ry en die span van ER24 het hulle sowat 10km buite Dealesville ontmoet. Paramedici het Ernst gestabiliseer voordat hulle hom na die Mediclinic Bloemfontein geneem het. Daar het hy ‘n noodoperasie van ongeveer twee en ‘n half uur ondergaan.
Christo sê chirurge moes aan sy regterbeen werk terwyl hulle ook in die operasie diep wonde aan sy linkerbeen geheg het.

Ernst het op Woensdag 3 Junie begin met spelterapie om die trauma van die ongeluk te verwerk.
“Dit gaan elke dag ‘n bietjie beter met Ernst,” sê die Groenewald egpaar. “Die pediater is tevrede met sy vordering.”
Hulle sê hulle is uiters dankbaar vir die ongevalledokters, chirurge, verpleegkundiges en personeel van die Mediclinic vir hul vinnige optrede, professionele sorg en ondersteuning in hierdie traumatiese tyd.

“Ons is ook baie dankbaar teenoor die span van Er24, die verkeersdepartement, die polisie en die privaat veiligheidsmaatskapy wat gehelp het dat die ambulans vinnig by die hospitaal kon kom.
“Ons is so dankbaar vir mense wat hul harte, huis en hande vir die Groenewald-gesin oopgemaak het in hierdie tyd. Ons waardeer elke boodskap, gebed, besoek en ondersteuning.”




You must be logged in to post a comment.