Die Paarlse stapper Adam Grobbelaar (70), beter bekend as “Grobbie”, is onlangs tydens ‘n staptog deur die Karoo deur onvoorsiene weerstoestande onkant betrap en moes saam met 19 ander stappers skuiling in ‘n vervalle plaashuis soek.
Grobbelaar stap reeds sedert 2013 en het tot op hede 3 480 km op verskeie staptogte deur die Karoo afgelê.
Volgens Grobbelaar is die Karoo sy gunstelingarea om te voet te verken weens die uitgestrekte landskap.
“Dit lyk van die een dag tot die volgende nooit dieselfde nie,” het hy telefonies gesê.
Van 8 tot 17 Mei het hy en 19 ander stappers van Calvinia na Op-die-Berg in die Koue Bokkeveld gestap. Op die derde dag (10 Mei) het daar ‘n hewige reënbui neergesak en hulle was deurdrenk, waarna hulle besef het dat hulle enigste opsie was op tydelike skuiling te soek.
Sowat 70 km vanaf Calvinia, nadat hulle daardie dag 29 km gestap het, het hulle op ‘n vervalle plaashuis afgekom en met die boer se toestemming vir twee dae daarin geskuil.
Dit was op 11 en 12 Mei toe ‘n reuse- storm oor dele van die Wes-Kaap, asook die Drakenstein-vallei, toegesak het.
Volgens Grobbelaar was die stappers nie bewus van die storm nie, omdat hulle glad nie selfoonontvangs gehad het om na die weervoorspelling te kyk nie.
Hy het verduidelik dat hy en die ander 19 stappers “soos sardientjies” in twee kamers van die plaashuis moes inpas en ook lekplekke in die dak moes ontwyk.
Hulle het glo die tyd omgekry deur onder meer hul lewensverhale met mekaar te deel.
Die stappers kon in ‘n vuurmaakplek in die kombuis hul kos gaarmaak.
Ná die tweede dag kon die groep stappers hul tog na Op-die-Berg voorsit en suksesvol voltooi.
Volgens Grobbelaar is ouderdom beslis net ‘n nommer en is hy op 70 steeds baie fiks en stap een keer per week 25 km op Paarlberg.
Hy is afkomstig van die Paarl en het aan die Hoër Handelskool Paarl, wat deesdae as die Hoërskool Labori bekendstaan, gematrikuleer.
Hy het in 1987 met Annemarie Grobbelaar getrou en die egpaar het twee kinders, ‘n dogter en ‘n seun, Craig Grobbelaar.
Craig word sedert 2008 vermis en Paarl Post het deur die jare verskeie kere oor sy verdwyning verslag gedoen.






