Weslander

Transnet vier belangrike mylpaal met nuwe terminaal in Saldanha-hawe

Uitgelese gaste by die seremoniële lintknip by die nuwe terminaal. Foto: Danie Hefers
Uitgelese gaste by die seremoniële lintknip by die nuwe terminaal. Foto: Danie Hefers
Weslander

Transnet vier belangrike mylpaal met nuwe terminaal in Saldanha-hawe


SALDANHA – Die Saldanha-ysterertsterminaal, Afrika se grootste uitvoerterminaal vir ystererts en Suid-Afrika se enigste toegewyde ysterertsuitvoerfasiliteit, het Woensdag 3 Junie ’n belangrike mylpaal in sy Tippler 3-projek bereik met die aanvang van toets- en ingebruiknemingsaktiwiteite.

Die geleentheid is bygewoon deur onder meer Michelle Phillips, Transnet se uitvoerende hoof, Andile Sangqu, voorsitter van die Transnet-raad, en Boffie Strydom, burgemeester van die Weskus-distriksmunisipaliteit.

Die Saldanha-terminaal hanteer ongeveer 96% van Suid-Afrika se ysterertsuitvoere en speel daarom ’n sleutelrol in die land se mynbou- en vraglogistieke netwerk.

Die infrastruktuurbelegging van meer as R4 miljard sluit die ontwikkeling van Tippler 3 en gepaardgaande infrastruktuur soos ’n Eskom-substasie, padbrûe en stofbeheerstelsels in. Die projek is aangepak om verouderde stortwa-infrastruktuur te vervang en die terminaal se operasionele betroubaarheid en langtermyn-volhoubaarheid te versterk.

Volgens Sangqu betree Transnet nou die finale fase van die projek met hernude doelgerigtheid. “Ons is nederig omdat ons weet daar is nog baie werk wat voorlê. Transnet se herstel is nog nie voltooi nie. Uitdagings bly bestaan en moet met eerlikheid, dringendheid en dissipline aangespreek word.

“Maar ons is ook vol vertroue, want hierdie mylpaal wys wat moontlik is wanneer kundigheid, vennootskappe en ’n gedeelde visie op ’n gemeenskaplike doel gerig word. Hierdie mylpaal behoort aan die werknemers, projekspanne, kliënte, vennote en die gemeenskap wat steeds hierdie strategiese nasionale bate huisves en ondersteun,” het hy gesê.

Strydom het die projek ook verwelkom en die belangrikheid van samewerking tussen die openbare en private sektor beklemtoon.

“Dit gaan oor samewerking, ekonomiese ontwikkeling en werkskepping vir ons gemeenskappe, en om sodoende die hele Weskus te verbeter,” het hy gesê.

Die toets- en ingebruiknemingsfase vorm deel van die breër konstruksie- en voltooiingsproses voordat die projek finaal vir operasionele gebruik oorhandig word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article