BLOEMFONTEIN – Die toenemende handelsbeperkings wat Namibië, Botswana en Mosambiek op Suid-Afrikaanse landbou-uitvoerprodukte ingestel het, bedreig nie net Suid-Afrika se landboubedryf nie, maar ondermyn ook streekshandel en ekonomiese stabiliteit in Suider-Afrika.

Jaco Mulder, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor handel, nywerheid en mededinging en die VF Plus se leier in Gauteng, sê hierdie optrede bots direk met die kernbeginsel van die Suidelike Afrika Doeane-unie (SACU) en doelwitte van die Afrika Kontinentale Vryhandelsgebied (AfCFTA) wat juis die vrye vloei van goedere en ekonomiese samewerking wil bevorder.

“Die beperking van Suid-Afrikaanse groente, vrugte en sekere pluimveeprodukte skep nie net onsekerheid vir produsente nie, maar stel ook duisende werksgeleenthede in die landbou- en logistieke sektor in gevaar,” sê Mulder.

Met sowat 17% van Suid-Afrika se landbou-uitvoerprodukte wat na die Sacu-streek gaan, kan voortgesette beperkings beduidende ekonomiese skade veroorsaak.

Lees ook: Landbou in SA groei met 17,4% en moet beskerm word, sê TLU SA.

“Terwyl die druk op buurlande om plaaslike produksie en werksgeleenthede te beskerm verstaanbaar is, kan sulke eensydige optrede nie ten koste van bestaande handelsooreenkomste en streeksamewerking geskied nie. Dit skep onsekerheid, verswak vertroue tussen handelsvennote en bedreig die langtermyn-stabiliteit van die streek se ekonomieë.”

Hy sê die VF Plus doen ‘n dringende beroep op die Suid-Afrikaanse regering om hoëvlak-dialoog met die betrokke lande te inisieer om die beperkings spoedig op te hef en wedersydse vertroue te herstel.

“Terselfdertyd moet Suid-Afrika sy uitvoermarkte verder diversifiseer en sterker bilaterale ooreenkomste met ander internasionale vennote nastreef.

“Sacu se strukture moet ook hersien word om te verseker dat lidlande by ooreengekome beginsels hou en eensydige handelsbeperkings voorkom word.

“Streeksamewerking bly noodsaaklik vir voedselsekerheid, ekonomiese groei en werkskepping,” sê Mulder.

“Die regering moet nou daadwerklik optree om Suid-Afrika se landboubedryf en breër ekonomiese belange te beskerm.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article