PAARL – Die sluier is gelig oor die identiteit van die voormalige Faure & Faure-vennoot wat in April 2024 afgedank is. Die Wellingtonse regsman Conrad Coetzee staan nou sentraal in ‘n ondersoek na ‘n beweerde miljoenrandse bedrogskema wat oor etlike jare strek. Terwyl ‘n strafregtelike saak deur die polisie ondersoek word, het die regspraktisynsraad bevestig dat sy eie ondersoek na Coetzee “in die finale stadium is”.
Bewerings
Coetzee het glo etlike jare lank ‘n fiktiewe advokaat geskep aan wie maandelikse betalings gedoen is, sê ‘n plaaslike regsgeleerde wat vertroud is met die geskorste Faure & Faure-vennoot.
“Die bewerings is dat hy dan fakture sou laat uitmaak vir hierdie ‘advokaat’ se dienste wat aan die regsfirma gelewer is,” het die regsgeleerde op voorwaarde van anonimiteit gesê.
“Die vermoede is dus dat hierdie geld dan in een van sy persoonlike rekeninge betaal is.”
Volgens die bron het dié aktiwiteit glo oor jare gestrek.

Die regsgeleerde kon nie ‘n geraamde bedrag gee van hoeveel rand se uitbetalings na bewering gedoen is nie, maar het wel genoem dat dit glo miljoene beloop.
Ná sy afdanking het Faure & Faure, waar Coetzee hom in 2011 aangesluit het, met ‘n “diepgaande forensiese ondersoek” begin; waarna die firma in September verlede jaar, asook weer onlangs, aan Paarl Post bevestig het dat sy interne ondersoek afgehandel en die aangeleentheid na die Paarl-polisie verwys is.
‘n Gepaardgaande klag is ook ingedien met ‘n versoek dat hy strafregtelik vervolg word.
Konstabel Ndakhe Gwala, ‘n woordvoerder verbonde aan die Wes-Kaapse polisie, het bevestig dat ‘n bedrogsaak ondersoek word.
“Sodra dit [die saak] afgehandel is, sal die senior staatsaanklaer genader word vir ‘n besluit,” het Gwala gesê.
Die firma het destyds gesê dat die afgedankte regsman reeds verlede jaar by die regspraktisynsraad van die Wes-Kaap aangemeld is.
Praktiseer
Paarl Post het verlede week berig dat “‘n afgedankte regsman” se naam weer opgeduik het in verband met bewerings van bedrog nadat dit aan die lig gekom het dat hy so onlangs soos Junie 2025 die Paarliet Christiaan Arnoldus Kurtz verdedig het wat van bedrog en kopiereg-oortredings aangekla word.
LEES OOK: Afgedankte regsman van Wellington duik weer op in bedrogsaak
Hierdie regsman, kan die koerant bevestig, is ook Coetzee.
Die regsgeleerde het volgens ‘n “notice of withdrawal,” ‘n openbare hofdokument, as Kurtz se regsverteenwoordiger namens SDP Attorneys bedank.
Dié dokument is op 24 Junie 2025 geteken en uitgereik.
Die koerant het uitgereik na SDP Attorneys om onder meer te hoor of die afgedankte regspraktisyn steeds by SDP Attorneys praktiseer, maar geen terugvoering ontvang nie.
Regspraktisynsraad
Kabelo Letebele, die senior bestuurder van kommunikasie en betrokkenheid vir die regspraktisynsraad, het destyds by navraag bevestig dat in 2024 alleen drie klagte teen Coetzee ingedien is.
Volgens Letebele het geen van dié klagte egter van Faure & Faure gekom nie.
Letebele het ook gesê Coetzee word ondersoek, maar wou nie uitwei oor die aard van die ondersoek nie.
Bygewerkte navrae is aan die regspraktisynsraad gestuur, onder meer om uit te vind of die regsgeleerde steeds praktiseer.
Volgens Letebele wys die rekords van die regspraktisynsraad dat Coetzee ‘n toegelate regspraktisyn is. Hy is egter tans ingeskryf op die “nie-praktiserende rol” van prokureurs.
“Hy [Coetzee] is die onderwerp van ‘n voortdurende ondersoek wat voortspruit uit klagte wat by die regspraktisynsraad ingedien is. In hierdie stadium, en hangende die finalisering van die saak in ooreenstemming met die prosedures wat in die Wet op Regspraktyk uiteengesit word, sal die regspraktisynsraad die uitslag bekend maak sodra die proses voltooi is en die regspraktisyn behoorlik in kennis gestel is.
“Die regspraktisynsraad hanteer alle bewerings met die grootste erns, en hierdie saak is nou in die finale stadium van ondersoek,” het Letebele gesê.
Navrae is op vier verskillende platforms (SMS, WhatsApp, Instagram en Facebook) aan Coetzee gestuur, maar geen kommentaar is teen druktyd ontvang nie.



You must be logged in to post a comment.