Suid-Afrika bestee meer aan politici en gevangenes per dag as leerders per maand.
Dit is die mening van Riaan van der Bergh, adjunkhoof van die skoolbeheerliggaam-organisasie FEDSAS oor die begroting wat in die parlement ter tafel gelê is.
Van der Bergh, ook hoof van FEDSAS se Sentrum vir Finansies en Risikobestuur, sit die regering se bestedingspioriteite in perspektief.
Hy verwys na die bekende Big Mac-indeks wat wyd gebruik word om ’n vergelykings tussen die koopkrag van verskillende geldeenhede te tref. Dit is gebaseer op die prys van ’n Big Mac-burger by McDonald’s in verskillende lande. “Vir perspektief op die Suid-Afrikaanse regering se bestedingsprioriteite, gebruik ek hier ’n “leerder-eenheid” gebaseer op dieselfde beginsel as die Big Mac-indeks.
“Skoolvoedingsprogramme bestee gemiddeld R3 per leerder per dag – maar slegs op skooldae. Indien naweke en vakansies ingereken word, is die bedrag R1,90 per leerder per dag. Die Nasionale Norme en Standaarde vir Skoolbefondsing, wat aan skole toegeken word vir onder meer studiemateriaal, elektrisiteit, water en skryfbehoeftes werk uit op sowat R5 per leerder per dag. Die totale openbare besteding per leerder per dag werk dus uit op tussen R7 en R10. Dit vorm die basislyn en word gesien as een leerder-eenheid.
“Vergelyk dit nou met die regering se besteding van sowat R130 000 per gevangene per jaar, of R363 per gevangene per dag. Dit is gelyk aan 36 leerder-eenhede per dag, wat beteken dat daar aan een gevangene daagliks net soveel bestee word as aan 36 leerders.
” ’n Gewone parlementslid se jaarlikse salaris is omtrent R1,27 miljoen, terwyl ’n senior parlementslid se jaarlikse vergoeding tussen R2,6 miljoen en R3,1 miljoen is. Parlementslede ontvang boonop verblyf, vlugte en reistoelae, sekuriteit en ander byvoordele. As ons aanneem dat ’n basiese parlementêre salaris uitwerk op sowat R3 490 per dag, staan dit gelyk aan 349 leerder-eenhede per dag. Een parlementslid ontvang die daaglikse befondsing van 349 leerders.
“Die verskil in befondsing bly duidelik selfs indien ons die breë veralgemenings waarop die leerder-eenheid gebaseer is, in ag neem.
“In sy staatsrede vroeër vanjaar het president Cyril Ramaphosa beklemtoon dat belegging in ons kinders noodsaaklik is vir Suid-Afrika se toekoms. Helaas, geld word bestee aan korrektiewe dienste, parlementêre dorpe en opgeblase politieke strukture terwyl ons land se toekoms hul dae deurbring in oorvol klaskamers sonder onderwysers of handboeke.
“Hou ook in gedagte dat slegs sowat 7% van die onderwysbegroting werklik die skoolhek bereik, met ouers wat skole finansier teen ’n bedrag van sowat R60 miljard per jaar. Teen 93% word byna die hele onderwysbegroting aan salarisse en administratiewe uitgawes bestee. Die oorblywende 7% moet alles dek wat leer moontlik maak. Hierdie bedrag word so dun gesny dat ’n handboek in Limpopo kompeteer met ’n lekkende toilet in die Noord-Kaap, wat weer met ’n stukkende heining in die Oos-Kaap kompeteer.
“Wat is die ekonomiese dividend van ’n belegging in onderwys in vergelyking met tronke en politici? Onderwys is ’n hoë-opbrengs belegging. Elke rand wat in basiese onderwys belê word, dra met verloop van tyd tussen R5 en R12 tot die BBP by. Die aanhouding van misdadigers is weer ’n netto ekonomiese uitgawe: Elke rand wat aan gevangenes bestee word, bring ten beste sowat 40c in – en dit verminder dikwels die BBP deur ’n verlies aan produktiwiteit. Politici se salarisse is ’n bedryfsuitgawe, nie ’n belegging nie. Hulle bring nie enige direkte, meetbare BBP-dividende in nie, behalwe as dit gekoppel word aan uitsonderlike regeringsuitkomste – Suid-Afrika se aanwysers dui nie hierop nie.
“Ons besteding is die omgekeerde van ons behoeftes. Suid-Afrika sal nie in duie stort omdat dit sy gevangenes befonds of parlementslede te veel betaal nie. Hierdie is ook nie ’n beroep op ’n vermindering in besteding aan korrektiewe dienste – hoewel die meeste parlementslede gerieflik met minder sal kan klaarkom.
“Hierdie is ’n beroep op meer geld vir die een groep wat wel kan keer dat Suid-Afrika in duie stort: ons leerders. Indien die Suid-Afrikaanse regering voortgaan om die hede te befonds kan dit ons toekoms vernietig” sluit Van den Bergh af.





