Dr Jaco Deacon van Fedsas
Dr. Jaco Deacon van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas). Foto: LinkedIn

‘n Donker jaar lê voor vir openbare onderwys in Suid-Afrika.

Dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê in vyf provinsies weet openbare skole nog nie hoeveel onderwysposte hulle vir 2026 van die staat gaan ontvang nie, terwyl ernstige tekortkominge heers in die provinsies waar skole reeds postevoorsiening ontvang het.

“Openbare skole moet elke jaar voor of op 30 September hul postevoorsiening vir die volgende jaar ontvang. Die datum is nie lukraak nie. Trouens, ‘n 2011-hofbevel in Fedsas se guns beskryf dit as ‘n ‘onbuigbare sperdatum’,” sê Deacon.

“Onsekerheid heers weens onderwysamptenare se onvermoë om te voldoen aan, en in sommige gevalle blatante minagting van, statutêre prosesse. Regulasies bepaal dat openbare skole hul begrotings vir die nuwe jaar voor die einde van die huidige skooljaar finaliseer. Dit is egter onmoontlik indien skole nie weet hoeveel onderwysposte beskikbaar is nie.”

Die nuutste verwikkeling volg op ‘n jaar waarin die nasionale departement van basiese onderwys onder hewige kritiek deurgeloop het met die nuus dat derduisende poste vakant was. In feitlik al nege provinsies het skole ook nie betyds hul wetlik verpligte oordragbetalings van provinsiale onderwysdepartemente ontvang nie.

“Fedsas het in April ‘n hofaansoek teen die hoof van die KwaZulu-Natalse onderwysdepartement by die hooggeregshof ingedien nadat die departement versuim het om die 2025-posvoorsieningsnorme betyds uit te reik. Toe dit aan skole gekommunikeer is, het sommige skole onverwags poste verloor. Die skooljaar was toe al ‘n paar maande aan die gang,” sê Deacon.

Fedsas het op 19 September briewe aan al nege provinsiale onderwysdepartemente gestuur om hulle te herinner aan die sperdatum en die regulasies.

In vier provinsies, Limpopo, Noordwes, Vrystaat en die Wes-Kaap, het skole wel betyds hul postevoorsienings ontvang.

Kommer heers dat die instelling van gr.R as verpligtend op ‘n ramp afstuur.

“Uit Fedsas se opname is dit duidelik dat daar nie behoorlik voorsiening gemaak word vir gr.R nie. Toe die president die Bela-wet met volle instelling onderteken het, is hy oënskynlik verkeerd ingelig oor die gereedheid wat gr.R betref. Die stelsel is eenvoudig nie gereed nie, en die poste-proses bewys dit,” sê Deacon.

You need to be Logged In to leave a comment.