Director of Chemshelf 6 CC, was sentenced for defrauding Ngqushwa Local Municipality through fake accommodation claims submitted via a travel agency between 2010 and 2011.
Director of Chemshelf 6 CC, was sentenced for defrauding Ngqushwa Local Municipality through fake accommodation claims submitted via a travel agency between 2010 and 2011.

BLOEMFONTEIN – Die omstrede taal- en toelatingsklousules van die BELA-wet gaan eersdaags in die hof getoets word.

Dit volg nadat die Noordwes-onderwysdepartement gedurende die Desember-skoolvakansie verlede jaar ongeveer 80 leerders by die Swartruggens Gekombineerde Skool geplaas het sonder enige vooraf-konsultasie soos voorgeskryf deur die gewysigde Skolewet en met geen bykomende hulpbronne aan die skool nie.

Die skool is op 12 Januarie vanjaar hiervan ingelig – slegs twee dae voordat die nuwe skooljaar begin het.

Dr. Jaco Deacon
Dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas.

Dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die skoolbeheerliggaam-organisasie Fedsas, sê die ironie is dat die skool, die beheerliggaam en die provinsiale onderwysdepartement reeds vir die grootste gedeelte van verlede jaar formeel in gesprek was oor oplossings om wel die toelating van bykomende leerders moontlik te maak.

Hy sê Fedsas ondersteun die skoolbeheerliggaam met ’n dringende hofaansoek waarin die hof versoek word om die provinsiale onderwysdepartement te verplig om sy grondwetlike en statutêre verpligtinge na te kom voordat die skool ʼn proses kan begin om bykomende leerders by die skool toe te laat.

Die taal- en toelatingsklousules van die BELA-wet het die afgelope jare verreweg die meeste kritiek gelok. Die klousules maak dit egter duidelik dat hierdie bevoegdheid by ’n skool se beheerliggaam berus.

“Fedsas het dit van die begin af duidelik gemaak dat magsmisbruik deur onderwysamptenare of inmenging deur politici nie geduld sal word nie. In hierdie geval was die Noordwes-onderwyshoof se
optrede nie binne die perke van wettige administratiewe gesag nie.”

Deacon sê die skool en die skoolbeheerliggaam is ten gunste van die toelating van bykomende leerders, maar slegs indien die nodige hulpbronne, insluitend infrastruktuur en bykomende poste, beskikbaar gestel word en die voorgeskrewe konsultasieprosesse ingevolge die gewysigde Skolewet nagekom word.

“Die skool het reeds sy goedgekeurde kapasiteit bereik. Verdere toelatings hou ernstige veiligheid- en bedryfsimplikasies in vir huidige leerders sowel as die bykomende leerders wat by die skool geplaas is, in. Die skool kan nie nou wetlik of verantwoordelik bykomende leerders akkommodeer sonder voldoende hulpbronne nie,” sê dr. Juané van der Merwe-Mocke, adjunkhoof van Fedsas en
hoof van regsdienste.

Van der Merwe-Mocke sê dit is moeilik om die provinsiale onderwysdepartement se optrede nie as onderduims te sien nie. “Hier het ons ’n skool wat gewillig is om vir bykomende leerders voorsiening te maak. Vir maande is hulle in gesprek met die provinsiale onderwysdepartement om toe te sien dat daar voldoende hulpbronne beskikbaar gestel word om die uitbreiding moontlik te maak. Dit net om uit te vind die departement het gewag totdat die skole gesluit het om agter die skool se rug byna 80 leerders administratief by die skool te plaas sonder om die skool daarvan in te lig.”

Sy sê tydens die formele gesprekke het die skoolbeheerliggaam duidelike skriftelike en afdwingbare verbintenisse van die departement vereis om met die skoolgemeenskap te kan konsulteer. Daar bestaan egter tot op hede geen voldoende skriftelike en afdwingbare verbintenisse van die departement rakende personeel, infrastruktuur, leer- en onderrigmateriaal of finansiële ondersteuning nie.

Volgens Van der Merwe-Mocke het die Noordwes-onderwysdepartement wel op 20 Januarie vanjaar enkele mobiele klaskamers by die skool afgelewer. Twee bykomende opvoeders het ook by die skool aangemeld sonder dat ʼn behoorlik aanstellingsproses gevolg is. Sy sê die skool het egter minstens ses bykomende opvoeders nodig om aan die minimum-onderrigvereistes te voldoen.

“Die mobiele klaskamers is boonop steeds nie behoorlik geïnstalleer nie en daar is geen kragtoevoer beskikbaar nie. Die klaskamers is dus nog nie operasioneel of veilig vir gebruik nie. Die skool se bestaande infrastruktuur verkeer reeds onder beduidende druk. Onafhanklike infrastruktuur- en veiligheidsverslae het uitdagings met die bestaande infrastruktuur en sanitasie uitgewys.”

Om bykomende leerders te akkommodeer, plaas die beheerliggaam in ’n onhoudbare posisie ten opsigte van sy wetlike sorgplig.

“Dis belangrik om daarop te let dat die hofaansoek nie daarop gemik is om leerders van hul reg op onderrig te ontneem nie. Die doel is om seker te maak dat toelating op ’n verantwoordelike, wettige en volhoubare wyse geskied, met behoorlike beplanning, voldoende personeel, funksionele infrastruktuur en betekenisvolle konsultasie en samewerking tussen die departement, die beheerliggaam en die gemeenskap wat deur die skool bedien word. Geen skool kan verplig word om leerders te akkommodeer waar dit objektief onveilig of prakties onuitvoerbaar is nie.”

Die implikasies van die saak strek wyer as slegs een skool. Deacon sê in die hofaansoek word gevra vir ’n bestraffende kostebevel teen die departement maar ook teen die provinsiale onderwyshoof weens die minagting van die bepalings van die Skolewet en die magsmisbruik.

“Dit is onaanvaarbaar dat skole die koste moet dra wanneer amptenare hul mag misbruik. Daar is ook geen rede waarom belastinggeld elke keer gebruik moet word om onbevoegdheid of eie agendas te finansier nie.”

Deacon sê indien onderwysdepartemente toegelaat word om eensydig kapasiteitsbesluite te ignoreer en skole sonder voldoende hulpbronne te belas, skep dit ’n gevaarlike presedent wat die statutêre rol van beheerliggame ondermyn. “Dit hou ernstige gevolge in vir leerderveiligheid, onderwysgehalte en die beginsel van samewerkende regering soos vervat in die Grondwet en die Skolewet.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article