KIMBERLEY – Sam Goldblatt, bekende Kimberleyse argitek wie se handewerk in die stad se silhoeët geëts is, het op 28 Februarie die merkwaardige mylpaal van 100 jaar bereik.
Sy groot partytjie by die Acacia-aftreeoord waarna lank uitgesien is, het familie en vriende van heinde en verre byeengebring. Goldblatt se lewensmaat, Eleen de Klerk, sy seun, William, dogter, Scharie Dreyer (sy seun, Robert, is verlede jaar oorlede), agt kleinkinders (een is ook oorlede) en 11 agterkleinkinders – ook die drieling agterkleinkinders, twee seuns en ‘n dogter – was daar.
By die geleentheid was meer as 100 geliefdes, vriende en oud-kollegas. Toesprake is gehou, koek gesny, gelag en gesels.

Dreyer het die plekmatjies ontwerp met wat alles in Goldblatt se lewe gebeur het. Hy het die koms van radio, Groot Depressie, Art Deco-styl, Tweede Wêreldoorlog, koms van radar, Big Band, koms van Apartheid, Tupperware, inry-teaters, Sharpville-slagting, Rock and Roll, televisie in Suid-Afrika, fondue-partytjies, Soweto-opstande, disco, skouerkussings, gekartelde hare, VHS-videobande, “aerobics”, WVK-sittings, Internet, “boy bands”, Nelson Mandela se vrylating, demokratiese Suid-Afrika, slimselfone, stroomdienste, beurtkag, Covid-19-pandemie, Kunsmatige Intelligensie, en Tik Tok beleef.
LEES OOK: Sam Goldblatt (99) vertel: Van Vrystaatkind tot Noord-Kaapse argitek
Op een kant van die plekmatjies is foto’s van vanmeleë se Kimberley-geboue, koerante en instellings, en aan die ander kant kiekies van hom in sy jong dae in Johannesburg, gelukkige jare saam met sy oorlede vrou, Henryetta, hul kinders, en ook saam met Eleen en geliefdes.
Geheim tot sy lang lewe eenvoudig
Vir Samuel Jacobus Goldblatt, gebore in Rosendal waar hy bergwater gedrink het, is die geheim tot sy lang lewe eenvoudig: bergwater van sy kinderdae in die Vrystaat, ’n passievolle loopbaan van 74 jaar, en die leiding van God.
Die verjaarsdaggeleentheid was ’n gepaste eerbetoon aan ’n man wat sy lewe aan die opbou van sy gemeenskap gewy het.
Hy is bekend vir die geboue wat hy ontwerp het – waaronder die Elizabeth Conradie-skool, hospitale en munisipale geboue – en vir sy onwrikbare geloof in menseregte. Sy firma, Goldblatt, Yuill & Vennote, was op ’n tyd ’n krag in die Noord-Kaap met takke in Kuruman en so ver as Bloemfontein en Mafikeng.
Gedurende die apartheidsjare was hy en sy vennote, soos David Yuill, bekend daarvoor dat hulle “oral baklei het vir beter menseregte en geleenthede vir almal, tot by die parlement”. Goldblatt het dikwels sy stem dik gemaak teen die onregverdigheid van die tyd, veral oor die beperkings wat op swart bouwerkers geplaas is.
Bly in voeling met gebeure
Selfs op 100 jaar is Goldblatt steeds by die Akasia-aftreeoord betrokke waar hy weekliks aan “gimtrim”-sessies deelneem. Hy hanteer steeds van hul eie huishoudelike take, kook nog kos, en hou ’n skerp oog op die aandelemark en die nuutste nuus op sy rekenaar.
Goldblatt het ʼn diep verbintenis tot Kimberley en sy mense. In sy latere jare het hy gehelp om die Sam Goldblatt-kompleks by die Yonder-sentrum te vestig, ’n projek wat bedoel is om die lewe van mense met gestremdhede te verryk.
LEES OOK: Visie leef voort in nuwe kompleks by Yonder
Vir die mense van die Diamantstad is Sam Goldblatt meer as net ’n oud-argitek; hy is ’n lewende legende wat ’n eeu se geskiedenis, integriteit en menswaardigheid verteenwoordig. Soos hy self sê: “Natuurlik het God my gelei”.






