Inskrywings vir die tweede FAK-Skryf’it-liedjieskryfkompetisie et vandeesweek geopen, met pryse ter waarde van R100 000, insluitend R25 000 kontant.
Die kompetisie sluit vanjaar vir die eerste keer twee afdelings in. Deelnemers kan kies tussen tradisionele liedjieskryf, waar alle elemente deur mense geskep moet word, of ‘n nuwe afdeling wat kunsmatige intelligensie (KI) in die produksieproses toelaat.
Volgens Barry Müller, die FAK se nasionale hoof van gemeenskap, geskiedenis en ad hoc-projekte, moet die lirieke in albei afdelings 100% oorspronklik deur ‘n mens geskryf word.
“Tegnologie kan klanke skep, maar mense skep liedjies. Die hart van ‘n Afrikaanse liedjie sal altyd in die lirieke lê – lirieke wat uit menslike ervaring en emosie deur storievertelling gebore word,” sê Müller.
Die tradisionele afdeling vereis dat elke element van die liedjie – van lirieke en melodie tot produksie – geheel en al deur mense geskep word. In die KI-afdeling mag tegnologie as hulpmiddel in die verwerking of produksie gebruik word.
Die kompetisie spog met ‘n paneel bekende kunstenaars as mentors, insluitend Danie “Reënwolf” du Toit, Ampie, Andriëtte Norman, William Wolf en John-Henry Opperman van Klopjag. Hierdie mentors sal deelnemers wat na die finale rondtes deurdring, begelei.
Die beoordelaarspaneel sluit in Jakkals Vibes, Blixim Straat, Steve Hofmeyr, Gian Groen, Pieter Smith, Bibi du Preez, Logan Pietersen (2025 se wenner), Monica Maree, Stefan Jansen, Jannie du Toit en Machiel Roets.
“Hierdie paneel verteenwoordig verskillende style en genres van Afrikaanse musiek,” sê Müller.
Die kompetisie is oop vir alle aspirant-liriekskrywers. Meer inligting is beskikbaar op Skryf’it.co.za.





