Ek drink rustig en suinig aan jou, want jy kom van ver af om my verlange na huis en hart te stil . . .
Jy’t jou goedjies opgepak, jou perd opgesaal en die reis na die verre Ooste aangepak. Jou kopbesluit was nugter van aard en jou hart en gees ruim genoeg om die vreemde te omhels. Iewers in jou gedagtegang het jy geweet, jy sal die boegoewater en wildeals moet verruil vir wie weet wat op jou sal wag. Jy sal die geur van varsgebakte harders en soetsuurdeegbrood moet agterlaat vir smake en geure wat ‘n ander deuntjie sing.
Jou kollektiewe langtermyn geheue bring bietjie vrede omdat jy al iewers op jou lewensreis ‘n soortgelyke draai gemaak het. En daai draai vra hare op jou tande. Dit vra vir uithou, aanhou en vasbyt, want hier waar jy nou is lyk jou lêplek soveel anders. Die taal wat jou ma-goed en jyself alte goed ken is hier nie hoorbaar nie. Die kultuurgoed wat jou na hartelus kon laat lag of huil is hier nie van sprake nie, want Asiô is nie Afrika nie.
Jou kieskeurige palet sal moet plek maak vir dit wat volksvreemd is aan dit waaraan jy eens gewoond was. Troos jou daaraan dat die smake en geure van hier eersdaags sy lêplek by jou sal maak.
Die noedels, tofu, seegras-sop en gebraaide seekat sal weldra die plek van koningskos inneem. Hoe dan nou anders as die geur van hoenderpastei, geel rys en soet wortels nie meer op die spyskaart wil verskyn nie?
En as die kultuur dikteer dat jy die taal moet praat, maar die woordeskat ontbreek om jou hartsgoed te kommunikeer, dan begin jy stadig maar seker ‘n woord of drie aanleer. En as dit moet, dan span jy maar vir Google-goed in om die nodige te doen. En as die viering van ‘n nuwe jaar hier erger klink as die bendegeweld in ons gemeenskappe, dan bly jy maar oopkop en omhels die andersheid van hier wees. En stuur jy saggies maar dringend ‘n skietgebed na Bo dat die pyn en hartseer van die gemeenskappe tot ‘n einde sal kom.
En as ons die maand van liefde op eie bodem vier, dan kies ek om my spatseltjies daarvan hier in die Verre Ooste te deel. Meteens word die vreemde ‘n vriendelike reisgenoot. Word my rieldans vervleg met die ritme, die ritmes van Oosterse tromme. Ek laat toe dat my hunkering na die eens bekende dinge en plekke ruimte maak vir ‘n nuwe avontuur.
Dis in my oopmaak van kop, hart en siel dat ek die soete geur van die vreemde ontdek. En tot my verbasing loop ek hier raak, die mens wat anders lyk en praat, maar tog bereid is om my as vreemdeling te aanvaar. En as ek deur die gangetjies van die nou bekende straatmark wandel, dan val my oog die hardervissie op kole gebraai. Doen hulle dit took hier? Ja, is die antwoord . . . ons is nie verwyderd van mekaar nie. En loop ek ‘n ent verder weg, dan ontdek ek die bottel rooiwyn al die pad ingevoer uit die hartjie van die Swartland. En tot my verbasing sien ek op ‘n winkelrak die pakkie rooibostee sorgvuldig verpak uit Clanwilliam se geweste.
En hier waar ek nou sit teug ek rustig en genotvol aan my koppie rooibostee gevul met liefde uit Afrika.





