Hierdie is ‘n opvolg-artikel oor onderwysers in Suid-Afrika wat toenemend stres ervaar.
Stres verskil van mens tot mens, maar oor die algemeen is dit wanneer jou liggaam fisies en emosioneel reageer omdat dit bedreig en onder druk voel. Jy voel dikwels oorweldig en sit letterlik met jou hande in die hare. Dikwels lei hierdie stres ook tot ander siektetoestande.
Hoe weet ’n mens jou stresvlakke is dalk te hoog?
- Fisies: Jy kry gereeld hoofpyn, jou spiere is styfgespan, jy is moeg, het dikwels spysverteringsprobleme, en sukkel om te slaap.
- Emosioneel: Uiters geïrriteerd, angstig, voel oorweldig en kan depressief wees.
- Kognitief: Sukkel om te konsentreer, jou geheue laat jou in die steek, en is heeltyd bekommerd.
- Gedrag: Onttrek jou van ander, eetgewoontes verander, en jy kan selfs te veel alkohol gebruik.
Oplossings en strategieë
Stres en die gepaardgaande geestesgesondheidskwessies verdwyn nie sommer vanself nie. ’n Mens is ook nie “swak” of “pateties” as jy by kundiges aanklop nie. Maak ’n afspraak by jou dokter en kry hulp.
Wilna van Rooyen van die Afrikaanse Onderwys Netwerk (AON) gee die volgende riglyne om stres baas te raak:
- Selfsorg: Prioritiseer persoonlike welsyn deur opleiding in selfsorg en gesonde verhoudings.
- Professionele ondersteuning: Doen kursusse oor hantering van probleemgedrag en stresbestuur.
- Professionele verhoudings: Om vriendskappe te ontwikkel met kollegas in plaas van om met selfone besig te wees, help om spanning te ontlaai.
- Gemeenskapsondersteuning: Raak deel van netwerke vir onderwysers om ervaringe te deel en ondersteuning te kry (soos die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie – SAOU – se Welstandprogram).
- Ouerleiding: Moeite sal gedoen moet word om ouers te betrek by opleiding oor hoe hul self vir hul kinders se opvoeding behoort te sorg, wat higiëne, gedrag, optrede teenoor volwassenes en maats, optrede in ‘n klaskamer, optrede op ‘n sportveld, emosionele selfregulering, ens. betref.
- Negatiewe mense: Beperk kontak met negatiewe mense, fokus op mense wat oplossings bied in plaas van probleme uitwys.
- Stel grense: Leer om nee te sê vir minder belangrike aktiwiteite wat tyd steel. Maak ook seker om tyd vir die gesin in te ruim, waarop ander mense nie aanspraak mag maak nie.
- Gereelde oefening: Stap is ‘n baie goeie oefening, kan enige plek beoefen word, verminder spanning en verbeter gemoedstoestand.
- Eet gesond. Verminder die inname van soetgoed: Suiker, pastas en ander koolhidrate kan bydra tot ‘n wisseling in bloedsuiker, wat op sigself buie negatief beïnvloed.
- Slaap genoeg: ’n Goeie nagrus herlaai jou batterye en jy voel sommer meer energiek.
- Veerkragtigheid: Veerkragtigheid help om balans te skep, daarom is dit belangrik om na die fisiese en emosionele gesondheid om te sien.
Om uitbranding te bekamp, moet individuele onderwysers strategieë aanleer, en skole behoort ondersteunende stelsels te skep om die druk te verlig en die welstand van onderwysers te verseker.
Tegnieke wat jy kan probeer as jy oorweldig voel:
- Sit op ’n stil plek en raak bewus van waar jy is en wat jy doen. Haal rustig asem.
- Probeer om drie tot vier keer per week te mediteer, selfs net vir 10 tot 20 minute.
- Ontspan jou spiere geleidelik. Sit op ’n stoel met jou hande op jou skoot. Knyp jou tone en ontspan hulle. Asem in (dit maak jou kalmer). Trek nou jou bene styf en ontspan. Dan jou arms, gesig, en laastens skouers. Doen dit geleidelik terwyl jy jou spanning uitasem.
- Stadige, diep asemhaling kalmeer die senuweestelsel. Doen dit so: Asem in 1 … 2 … 3 … Hou nou jou asem op vir drie tellings en asem dan uit vir drie tellings. Herhaal ‘n paar keer.
- Probeer om ten minste een maal per week iets te doen wat vir jou lekker is – ’n stokperdjie wat jou laat ontspan, ’n lekker warm bad – enigiets wat jou laat ontspan.
- Lag genoeg.
- Skryf elke dag drie dinge neer waarvoor jy daardie dag dankbaar was.
- Maak gebruik van die SAOU Welstandprogram se hulplyn deur ’n WhatsApp-boodskap na 064 609 1150 te stuur, of skakel die noodlyn wat 24 uur per dag beman word, by 012 436 0911.
Kyk hier vir meer: SAOU Wellbeing
Bron: Onderwys: ’n Beroep van uiterstes en emosioneel uitmergelend. – Afrikaans.com





