Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS) het R15,8 miljoen uit die Masilonyana Plaaslike Munisipaliteit se bankrekening gevries weens die munisipaliteit se versuim om ‘n afbetalingsooreenkoms na te kom. Die totale skuld beloop na raming R60 miljoen.
Dit beteken dat munisipale werkers waarskynlik nie salarisse sal ontvang nie, wat verdere arbeidsaksie en diensonderbrekings onvermydelik maak.
Hierdie finansiële ineenstorting is bykomstig tot bestaande probleme soos beurtwater, aanhoudende watertekorte en ‘n algehele agteruitgang in dienslewering in Brandfort, Theunissen, Winburg en Verkeerdevlei.
Die munisipaliteit probeer tans met SARS onderhandel en oorweeg selfs ‘n oortrokke rekening, wat slegs nóg skuld sal meebring.

Intussen het die Vrystaatse Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (CoGTA) kennis gegee dat Masilonyana vanaf 1 Februarie 2026 onder administrasie geplaas kan word.
Die VF Plus waarsku al lank dat wanbestuur, politieke chaos en die ANC se onvermoë om dissipline af te dwing Masilonyana tot hierdie punt sou bring.
Ernstige bewerings teen die burgemeester, munisipale bestuurder en hoof finansiële beampte verdwyn telkens sonder enige aanspreeklikheid.
CoGTA se LUR, Saki Mokoena, het die raad herhaaldelik versoek om die onwettige aanstelling van die hoof finansiële beampte, Amos Mokoae, te herroep. Die ANC-beheerde raad ignoreer dit egter, ten spyte van sy vorige betrokkenheid by finansiële wanbestuur in die Mafube Plaaslike Munisipaliteit.
Solank die ANC die raad beheer, sal selfs ‘n artikel 139-ingryping min verskil maak. Sonder die politieke wil, dissipline en aanspreeklikheid kan geen herstelplan slaag nie.
Die VF Plus sal daarop aandring dat CoGTA verduidelik hoe dienslewering beskerm gaan word te midde van die SARS-beslaglegging en wat die beplande ingryping presies gaan behels.
“Die enigste manier om Masilonyana te red, is om die ANC uit die raad te verwyder,” sê Willem Potgieter, VF Plus-raadslid van die Masilonyana Plaaslike Munisipaliteit.
Photo: SIU






You must be logged in to post a comment.