brnad
Die Wes-Kaap beveg steeds brande. Foto: Heinrick Strumpher

Brandbestryders in die Wes-Kaap veg steeds dag en nag om brande in die Overberg-distriksmunisipaliteit en die Weskus-distriksmunisipaliteit (WDM) te blus. Die provinsie ervaar tans een van die ergste brandseisoene tot nog toe.

Stanford

Die Greater Overberg Fire Protection Association (FPA) het in ‘n Facebook-verklaring hulde gebring aan die “buitengewone dapperheid, bloed, sweet en trane” wat brandbestryders en vrywilligers tydens die Stanford-velbrand, wat vroeër die maand uitgebreek het en steeds nie geblus is nie, getoon het.

Volgens die Greater Overberg FPA het die brand ’n massiewe, gekoördineerde reaksie vereis, met lug- en grondhulpbronne wat van oor die Overberg heen en selfs verder ontplooi is.

“Geen woorde kan die vrees op die brandlyn, die steil leerkurwe vir baie, of die aanmoediging en viering van suksesse wat spanne deur die moeilikste oomblikke gedra het, ten volle beskryf nie,” het die vereniging gesê.

Lugoperasies het ’n kritieke rol gespeel in die bekamping van die brand, met vliegtuie wat altesaam 18,33 uur gevlieg het, helikopters wat 23,42 uur aangeteken het, en ’n Black Hawk-helikopter wat 8,9 uur lank ontplooi is.

LEES OOK: Paarlse vrou red diere uit die nadraai van verwoestende brand

Op die grond was brandbestrydingspogings ewe intensief. Working op Fire-spanne onder die WOF-Kishugu- gesamentlike beweging het 239 brandbestryders ontplooi, wat altesaam 2 868 uur gewerk het. NCC Wildfires het drie 24-uur-ontplooiings uitgevoer en ’n verdere 360 uur bygedra, terwyl Volunteer Wildfire Services vier 12-uur-ontplooiings onderneem het, wat 480 uur se brandbestrydingstyd toegevoeg het.

Die reaksie het ook spanne van die Overstrand-munisipaliteit, die Overberg-distriksmunisipaliteit, SANParks asook die Greater Overberg FPA en CapeNature ingesluit.

Daarbenewens het ’n groot aantal vrywilligers en gemeenskapsbrandbestrydingsgroepe ook bystand verleen.

Piket-Bo-Berg

Luidens ‘n onlangse Facebook-verklaring deur die WDM is die brand wat op 24 Januarie in Piket-Bo-Berg tussen Oakview Village en die Lalaland-gastehuis uitgebreek het, steeds nie geblus nie.

‘n Nuwe brandlyn het glo gister oorgesteek vanaf die Moutonshoek-gebied en word tans noukeurig gemoniteer terwyl die brandlyne op Piket-Bo-Berg, Groenvlei en Moutonshoek onder beheer is.

brand
Die brand in Piket-Bo-Berg is nog nie geblus nie. FOTO: West Coast District Municipality/Facebook

“Ons personeel en grondpersoneel bly op die terrein en doen monitering en opruimingswerk om enige opvlammings te voorkom,” volgens die verklaring.

Die munisipaliteit het bygevoeg dat geen eiendom skade opgedoen het nie.

Franschhoek

Volgens Jo-Anne Otto, woordvoerder van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) is daar geen “groot [veld]brande in die distrik nie” met die laaste brand wat op 17 Januarie in Franschhoek uitgebreek het en oor die Franschhoekpas beweeg het na die Overberg.

Otto het gesê ongeveer 60 000 ha binne die KWDM het tot op hede vanjaar afgebrand.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article