MALMESBURY – Die Swartland se wyndruifprodusente het verlede week plek-plek met die oes van hul chardonnay vir cap classic, chenin blanc en pinotage begin.
Dewald Huisamen, die voorsitter van die Swartlandse Jongwynskouvereniging en ‘n wynmaker by Pulpit Rock in Riebeek-Wes, sê die terugvoer oor hoe die oes vorder, is wisselvallig. Produsente is dit egter eens dat dit nog te vroeg is om nou al ‘n vooruitskatting oor die 2026-seisoen te waag.
“Ons almal het op ‘n groot oes gehoop. Op hierdie tydstip lyk dit na ‘n gemiddelde oes en selfs kleiner vir van die kultivars.”
Pinotage blyk in hierdie stadium bykans tien dae vroeër te wees teenoor verlede jaar se seisoen, wat volgens kenners ‘n aanduiding van ‘n ligter oes kan wees. Chenin blanc, pino gris en chardonnay is by sommige produsente vyf dae vroeër as verlede jaar se oes, terwyl ander weer op min of meer dieselfde datum reg is vir pars.
“Ons hoop van harte dit is ‘n gemiddelde oes en dat daar nie ‘n afname is nie,” sê Huisamen.
Produsente is wel tot dusver optimisties oor wynpryse. “Pryse lyk goed. Indien dit ‘n groot oes onder wit kultivars is, kan pryse wel onder druk verkeer,” brei hy uit. ‘n Gemiddelde oes kan weer beteken dat die prys behoue bly. Die prys onder die rooiwynkultivars is onder druk en lyk dieselfde as in die verlede, maar is tog stabiel.
Jolene Janse van Rensburg, bestuurder by die Swartland- wyn-en-olyfroete, het bevestig verskeie wynkelders en produsente in die streek het reeds met die vroeë kultivars weggespring.
Sommige produsente het ook al selfs sauvignon blanc begin pars.
Dit is ‘n besonderse droeë jaar en produsente is uiters versigtig vir brande wat nie net skade aan hul wingerd kan veroorsaak nie, maar weens rook ook ‘n negatiewe uitwerking op die smaak van die wyne kan hê. Brande is onder meer by Org du Rac buite Piketberg en Pulpit Rock aangeteken, waar gelukkig minimale skade voorgekom het, het Janse van Rensburg bygevoeg.





