Kleinmond-brand
‘n Brand het vandag naby die Overhills-informele nedersetting in Kleinmond uitgebreek. Foto: Overstrand Municipality/ Facebook

Brandbestrydingspanne het vandag (17 Januarie) op twee afsonderlike veldbrande in die Wes-Kaap gereageer, naamlik in die La Motte-gebied buite Franschhoek en bo die Overhills-informele nedersetting in Kleinmond.

Franschhoek

Volgens ’n verklaring deur die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) het die brand in La Motte buite Franschhoek uitgebreek en word verskeie strukture tans bedreig.

“Brandbestrydingspanne van die KWDM en die Stellenbosch-munisipaliteit is tans op die toneel, en word ondersteun deur lughulpbronne, gekontrakteerde grondspanne en Vrywillige Veldbranddienste (VWS),” lui die verklaring.

Die KWDM sê dat verskeie lugondersteuning ontplooi is, insluitend van die provinsiale rampbestuursentrum, die Wynland Brandbeskermingsvereniging (BVB) sowel as gekontrakteerde lughulpbronne van KWDM.

LEES OOK: Drakenstein steeds in rookwolk gehul; 17 000 ha sover verwoes

“Verskeie strukture word bedreig, en brandbestrydingsaktiwiteite is gefokus op die beskerming van strukture,” lui die verklaring.

Motoriste in die omgewing word versoek om waaksaam te wees en die instruksies van verkeersbeamptes te volg en voorrang te gee aan brandbestrydingsvoertuie.

Kleinmond

Volgens ’n verklaring deur Dean O’Neill, munisipale bestuurder van die Overstrand-munisipaliteit, is die brand wat vandag bo die Overhills-informele nedersetting naby die oordragstasie in Kleinmond uitgebreek het, onder beheer gebring. Geaktiveerde lugondersteuning is omstreeks 16:00 onttrek.

kleinmond-brand
Die brand wat vandag bo die Overhills-informele nedersetting in Kleinmond uitgebreek het is onder beheer gebring. Foto: Overstrand Municipality/ Facebook

Die munisipaliteit waarsku dat opvlammings steeds moontlik is, terwyl brandbestryders met nabluswerk voortgaan om te verseker dat alle areas volledig geblus en afgekoel is.

In ‘n onverwante insident het ‘n veldbrand wat buite beheer geraak het, vroeër Saterdag ‘n historiese rietdakhuis in die Bo Dal-pad verwoes, terwyl brandweermanne desperaat geveg het om ‘n tweede soortgelyke struktuur te red.

Die Drakenstein Farm Watch (DFW) is na die gebied ontbied nadat ‘n grasvuur vinnig versprei het en die eerste historiese rietdakhuis aan die brand geraak het. Twee ander historiese geboue was ook in direkte gevaar. Ongelukkig was die skade aan die eerste huis reeds te erg en kon dit nie gered word nie.

DFW tesame met die Drakenstein-brandweer het alle hulpbronne ingespan om die vuur te blus en kon daarin slaag om die brand te keer voordat dit skade aan die tweede gebou kon aanrig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article