Lees die hartverwarmende verhaal van Louis en Magriet Botha op hulle 67ste huweliksherdenking.
Louis en Magriet Botha, inwoners van die Arboretum-tehuis vir bejaardes in Kroonstad. FOTO’S: Verskaf

KROONSTAD – ‘n Egpaar van Kroonstad het hul 67ste huweliksherdenking begin Desember gevier.

Dié mylpaal het Louis en Magriet Botha, inwoners van die Arboretum-tehuis vir bejaardes in Kroonstad, op Saterdag 6 Desember gevier. Die twee se liefdesverhaal het in Bloemfontein begin toe Magriet ná sy in Koffiefontein gematrikuleer het, na Bloemfontein verhuis het.

Daar het sy by die destydse Posspaarbank gewerk.

Hul eerste ontmoeting

Magriet en haar vriendinne het een Saterdagmiddag na hul woning in Bloemfontein, Ons tuiste, gestap toe hulle vir Louis raakloop.

Louis het dadelik in Magriet met die mooi lang hare, belanggestel en wou haar graag beter leer ken.

“Dit was nie maklik om by Magriet vlerk te sleep nie. Sy het ‘n paar keer nee gesê voordat ek haar op ‘n afspraak kon neem,” sê Louis.

Hulle eerste afspraak was ‘n fliek van die bekende komediant Al Debbo, saam met twee vriende. Steeds was Magriet nie te vinde vir ‘n nuwe liefde nie en het eers op 28 Februarie 1957 vir Louis ja gesê.

Op 6 Desember 1958 is die twee in Koffiefontein – waar Magriet grootgeword het – getroud en die egpaar was vir hul wittebrood na Oos-London. Hiér het hulle in die Carlton-hotel tuisgegaan.

Lees die hartverwarmende verhaal van Louis en Magriet Botha op hulle 67ste huweliksherdenking.
Jong Magriet en Louis Botha het mekaar as jong enkellopendes in Bloemfontein ontmoet en is op 6 Desember 1958 getroud.

Vir ‘n groot deel van hul huwelik was hulle in Bloemfontein woonagtig, waar hul vier kinders gebore is en grootgeword het.

Louis het op die destydse Suid-Afrikaanse Spoorweë, vandag bekend as Transnet gewerk. Later is Louis na Kroonstad oorgeplaas waar hy as superintendent met 200 personeellede onder hom tot sy aftrede werksaam was.

Die egpaar is sedert 1980 in Kroonstad woonagtig en het verlede jaar April na die Arboretum-tehuis vir bejaardes in Kroonstad verhuis.

‘n Gesonde huwelik

Op die vraag na wat die geheim is om 67 jaar gelukkig getroud te wees sê die egpaar: “Ons het ‘n telegram toe ons getroud is ontvang wat die volgende gelees het: ‘In ‘n huwelik eer, waardeer en respekteer ‘n paartjie mekaar.’ ”

En as gelowiges het hulle gestreef om eenheid in hul huwelik te bekom en leef volgens Deuteronium 30:19. “Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag,” sê die egpaar.

Buiten die egpaar se vier kinders, spog hulle ook met 11 kleinkinders waarvan nege getroud is en is met 21 agterkleinkinders geseën.

Twee van hulle kleinkinders – asook sewe agterkleinkinders – is in die buiteland woonagtig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article