KIMBERLEY – Om broodnodige geld vir Caritas Gemeenskapsfokus se noodsaaklike kinderbeskermingsdienste in die Noord-Kaap en Noordwes in te samel, is ‘n veldtog “Liggies vir Kinders Teen Misbruik” (“Light for Kids Against Abuse”) begin. Dit duur tot Kersfees en vind in die lig plaas van die veldtog van 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders was pas geëindig het.
Die Liggies-inisiatief nooi die publiek en ondernemings uit om ‘n simboliese liggie teen R50 elk te borg. Die geld wat ingesamel word, word gebruik om Caritas se terapeutiese dienste, wat gratis aan kwesbare gemeenskappe gelewer word, te volhou.
Maatje Brand, bemarker by Caritas, sê die veldtog is noodsaaklik vir die voortsetting van hul werk.
LEES OOK: Caritas Gemeenskapsfokus bied vaste grondslag vir kinders, gesinne
“Ons terapeutiese afdeling het vanjaar reeds meer as 15 000 dienste aan gesinne en individue gelewer. Dit sluit in ondersoeke na kindermishandeling, traumaberading, en die versorging van die 80 kinders wat in die Jannie Roux-kinder-en-jeugsorgsentrum in Barkly-Wes gehuisves word.”
Die langtermyn mikpunt vir die veldtog is die insameling van derduisende rande deur die verkoop van simboliese liggies. Hoewel die organiseerders erken dat hul mikpunt nie ten volle in die eerste jaar bereik sal word nie, dien die veldtog as ‘n wegspringplek vir ‘n volhoubare projek wat ook oor Paasfees sal voortgaan.
Skenkings word hanteer via die aanlynplatform BackaBuddy onder die projeknaam “Light for Kids Against Abuse“. Deelnemende ondernemings verkoop ook plakkers wat die liggies verteenwoordig, en word versoek om minstens 100 plakkers (ter waarde van R5 000) te verkoop.
Die veldtog bereik sy hoogtepunt op 20 Desember met ‘n seremonie by Nelo’s Farmyard and Adventure buite Kimberley.
Hiertydens sal ‘n groot Liggies vir Kinders-Kersboom aangesteek word om elke geborgde liggie te simboliseer. Die seremonie sal ook ‘n oomblik van stilte insluit ter herdenking van slagoffers van geweld.
“Elke R50-liggie help om Caritas se kinderbeskermingsdienste te befonds wat waardigheid, veiligheid en sorg herstel waar dit die nodigste is,” sê Brand. “Sonder volhoubare befondsing loop talle programme, soos die Boelie Buster-skoolprogram en noodsaaklike traumaberading, die gevaar om gestaak te word.”
Belangstellendes word aangemoedig om die veldtog te ondersteun deur skenkings op BackaBuddy te maak of deur Caritas se sosiale media-platforms op Facebook, Instagram en TikTok te volg vir meer inligting.





