Wemmershoekdam
Die Wemmershoekdam. Foto: Argief

DRAKENSTEIN – Die Drakenstein-munisipaliteit (DM) doen ’n beroep op huishoudings, ondernemings en plase om water spaarsaamig te gebruik terwyl somertemperature styg en damvlakke oor die provinsie heen merkbaar daal. Die DM het in ‘n verklaring laat blyk dat waterbeperkings moontlik ingestel kan word indien damvlakke aanhou daal.

Volgens die munisipaliteit is daar egter, ondanks die laer damvlakke in vergelyking met dieselfde tyd verlede jaar, geen onmiddellike rede tot kommer nie. Die DM beklemtoon dat verantwoordelike watergebruik noodsaaklik is om langtermyn-watersekuriteit te verseker.

“Daar is geen nuwe waterbeperkings van krag nie, maar dit kan verander indien damvlakke aanhou daal of indien die nasionale departement van water en sanitasie ’n riglyn uitreik,” het Louis Pienaar, DM se uitvoerende direkteur van ingenieursdienste in ‘n verklaring gesê.

Damvlakke daal

Die gesamentlike opberging van die Bergrivier-, Wemmershoek- en Voëlvlei-damme het op 1 Desember vanjaar op 82.4% gestaan – ’n beduidende afname vanaf die 93.1% wat dieselfde week verlede jaar aangeteken is.

Die DM skryf die daling toe aan verminderde winterreënval en vroeë hoë somertemperature, wat waterverbruik laat styg het.

Volgens ‘n onlangse verklaring van die DA, is die “Kaapstad-waterstelsel tans op 79,1% kapasiteit, vergeleke met 96% in dieselfde tyd verlede jaar. Die breër Wes-Kaapse stelsel staan op 71,2%, af van 91,7% in Desember verlede jaar. In net die afgelope week het die Kaapstad-stelsel met 1,9% gedaal”.

LEES OOK: Western Cape dam levels continue rapid decline

Dave Bryant, provinsiale parlementslid en Wes-Kaapse DA-woordvoerder vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning het gesê: “Ons damvlakke is laer as waar ons dit graag sou wou hê op hierdie punt in die seisoen, maar ons is in ’n baie sterker posisie as ’n dekade gelede.

Voortgesette waterwys-gewoontes is noodsaaklik om ons langtermyn-watersekuriteit te beskerm, veral namate klimaatdrukke toeneem. Deur saam te werk en water verantwoordelik te gebruik, kan ons verseker dat ons krane aanhou vloei deur die somer en ver in die toekoms.”

Verbruik neem toe

Daaglikse waterverbruik in die Drakenstein het tot ’n gemiddeld van meer as 50,9 miljoen liter gestyg, in vergelyking met 48,1 miljoen liter in dieselfde week verlede jaar.

“Waterverbruik neem gewoonlik toe saam met temperature, maar vanjaar was die toename vroeër en skerper as verwag,” het Pienaar verduidelik.

Munisipaliteit vra inwoners om te help

Die DM sê dat hy voortgaan om sy “strategie vir waterbewaring en -vraagbestuur” uit te voer. Dit sluit in drukbestuur, die vinnige herstel van lekkasies en voortdurende opgraderings aan waterinfrastruktuur.

Inwoners kan volgens die munisipaliteit help deur eenvoudige waterbesparingsgewoontes aan te neem, waaronder:

  • Die rapportering van lekkasies via die SeeClickFix-toep of deur die 24-uur tolvrye nommer 080 131 3553 te skakel;
  • Die tydige herstel van huishoudelike lekkasies;
  • Die beperking van storttyd en die vermyding van onnodige kraangebruik;
  • Die gebruik van gryswater vir tuine;
  • Die besproeiing van tuine voor 09:00 of ná 18:00; en
  • Die vermyding daarvan om geplaveide areas met ’n tuinslang af te spuit.

Volgens die munisipaliteit is dit van kardinale belang dat alle inwoners saamwerk om druk op die gebied se waterbronne te verminder, veral namate die somerhitte toeneem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article