Weslander

VERBRUIKERSKLAGTE | Weskus-kombuiskasbouer beskuldig van aanranding en geen dienslewering

Peet Wittstock. Foto: Skermgreep
Peet Wittstock. Foto: Skermgreep

VREDENBURG – ’n Web van klagtes omhul ’n kombuiskaskontrakteur van die Weskus wat in verband met ’n aanrandingsaak gesoek word en ’n siviele geding in die gesig staar oor ’n R300 000-deposito waarvoor ’n kliënt glo skaars drie bruikbare panele gekry het.

Janet Müller en Rudolf de Villiers van Velddrif het in April 2025 by Peet Wittstock aangeklop vir ingeboude kaste vir ‘n nuutgeboude huis. Sy het ’n deposito van meer as R300 000 vooruit betaal, wat sowat 90% van die totale bedrag was. Die kaste sou voltooi gewees het teen 14 November.

Maar dit het nie gebeur nie. “Geen vordering. Geen updates. Geen verduideliking,” is hoe Müller die weke ná dit opsom.

Wittstock het die afgelope paar jaar sake gedoen onder minstens drie besigheidsname – D5 Artisans, Decko Artisans en, volgens onlangse bewerings, die nuwe Duco Artisans. Klagtes op die verbruikerswebwerf, Hello Peter, dui op ’n patroon van grootskaalse deposito’s, min of geen dienslewering, gevolg deur die vinnige stigting van nuwe ondernemings wanneer klagtes teen hom begin opstapel.

Vir al die geld het De Villiers drie halfvoltooide kasrame wat verkeerd gemeet was en ’n los hoop hout gekry. Volgens haar is meer as 80% van die werk nooit gedoen nie.

Müller het Wittstock begin navors en met ’n skok besef dat daar ander mense is wat ook oor hom kla. Ebensohn-prokureurs in Langebaan, wat Müller in ’n siviele geding verteenwoordig, het aan Weslander bevestig dat hulle meer as een kliënt het wat siviele sake teen Wittstock aanhangig het.

“Elke storie wat ons gevind het, is amper woord vir woord wat ons oorgekom het,” sê Müller, en dit stop nie daar nie.

Müller se geduld was op Maandag 10 November op. De Villiers het na die werkswinkel in Perlemoenstraat, Vredenburg, gegaan. Daar is aan hom verduidelik dat Wittstock tans sake vanuit ‘n perseel in Mosselstraat bedryf. “Ek wou nie baklei nie, maar ’n plan vorentoe vra.”

Die video van die insident is aan Weslander oorhandig en word geplaas in oorleg met Novus Media se persombudsman, George Claassen.

Dit was toe dat Wittstock hom glo aangerand het.

De Villiers het op Dinsdag 11 November ’n aanrandingsklag by die Vredenburg-polisie teen Wittstock gaan lê. Die speurtak ondersoek tans die saak, maar kon nog nie Wittstock se huidige adres bevestig nie.

Volgens De Villiers het Wittstock ure ná die beweerde aanranding die D5 Artisans-webblad afgehaal.

Nog ’n rooi vlag kom van die Kitchen Specialists Association (KSA). Stephanie Forbes, Wes-Kaapse streekbestuurder, het aan Weslander bevestig dat Peet Wittstock en D5 Artisans in Januarie 2025 geskors is vir wanbetaling.

Volgens Forbes het die probleme erger geraak ná die skorsing. Wittstock is skriftelik ingelig oor die skorsing en opdrag gegee om alle KSA-logo’s en verwysings van sy sosiale media af te verwyder. In Maart vanjaar het die KSA ontdek dat hy steeds die logo’s gebruik. Hulle het in Mei ’n staking-en-ophou-bevel verkry om Wittstock te kry om op te hou om hul naam te misbruik. “Die KSA moes uiteindelik ’n publieke verbruikerswaarskuwing op ons webwerf plaas,” het Forbes gesê.

Forbes het verder bevestig dat drie verbruikers hulle vanjaar gekontak het met variasies van dieselfde klagtes oor Wittstock. Die klaers het egter nooit formele klagtes by die polisie gaan lê of die KSA van formele dokumente voorsien nie.

Wat De Villiers dwars in die krop steek, is dat Wittstock net voortgaan.

“Die speurtak sukkel om hom op te spoor … Hy’s al klaar weer besig met ’n nuwe besigheid: ducoartisans.co.za.”

Weslander het Wittstock per e-pos en WhatsApp gekontak, maar al wat hy oor die klagtes én die video te sê gehad het, was dat ’n prokureur nou die saak namens hom gaan hanteer. “Die ding gaan te ver. Sal met jou later kan gesels.”

Weslander het aan hom benadruk dat kommunikasie in verbruikersake streng skriftelik gehou word en dat hy die geleentheid moet gebruik om sy kant van die saak te stel en die vrae wat aan hom gestel is, te antwoord, maar hy steeds nie gedoen het nie.

Dit was belangrik vir Müller en De Villiers om met die gebeure vorendag te kom, om te verhoed dat nog mense dalk ingeloop word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article